Kapingsvideo: Kar in sokkerspeler se erf gevind

Foto: Youtube

Foto: Youtube

Kaizer Chiefs-sokkerklub het Dinsdag bevestig dat ʼn voertuig, wat in Johannesburg se middestad gekaap is, op een van sy spelers se parkeerplekke opgespoor is.

“Ons bevestig die inligting. Die betrokke speler is besig om die kwessie te hanteer,” het Vina Maphosa, die klub se woordvoerder, gesê.

Volgens Maphosa is dit ʼn privaat aangeleentheid en wou hy nie uitbrei of die voertuig by die speler se parkeerplek by sy huis of by die klub gevind is nie. “Die polisie sal dit bevestig,” het Maphosa gesê.

Volgens lt.kol. Lungelo Dlamini, ʼn polisiewoordvoerder, is die voertuig by ʼn meenthuiskompleks in Meredale, suid van Johannesburg, opgespoor. “Ons is steeds besig om te ondersoek of die eienaar van die huis aan die kaping verbind kan word. Ek kan in die stadium nie die eienaar se naam bekend maak nie,” het Dlamini gesê.

Maroela Media het vroeër vandeesmaand ʼn video wat op kringtelevisie afgeneem is, op die webwerf gepubliseer. Die gesin is op 16 November op die hoek van Commissioner- en Crownstraat in Johannesburg gekaap. “Een motor het die gesin se voertuig verbygesteek terwyl hulle by ʼn verkeerslig stilgestaan het,” het Obakeng Mabaso, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die kapers het reg voor die familie se voertuig gestop en ʼn tweede motor het agter hulle stilgehou. Twee mans uit die een voertuig en twee uit die tweede voertuig het uitgeklim en die gesin gedwing om hul voertuig te verlaat.” Die kapers het twee selfone en R10 000 kontant gebuit. Twee van die aanvallers was gewapen.

Klik hier om die video te kyk.

Die polisie het vier dae later vier mans in verband met die kaping in hegtenis geneem. Die saak teen Siphelele Mdlalose (29), Khanyisani Ngubane (24), Mhlonishwa Mchunu (36) en Ntobeko Hlatshwayo (29) is nog hangende in die hof.

Lees ook:
Kapingsvideo: Vier in hof
Kapingsvideo: Vier mans vasgetrek
Nóg ʼn video van ʼn JHB-kaping

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Ja-nee kyk. Nou is die vraag; Weet hy werklik niks van die kwessie nie? Of het hy ook maar ‘n ‘sideline’ joppie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.