Karabus dalk binnekort tuis

Prof. Cyril Karabus

Prof. Cyril Karabus kan moontlik binnekort toestemming ontvang om die Verenigde Arabiese Emirate te verlaat en na Suid-Afrika terug te keer.

Michael Bagraim, Karabus se prokureur in Kaapstad, het aan die Cape Argus gesê aanklaers het vir die eerste keer aangedui dat hulle sy hofsaak wil afhandel. “Ons prokureurs, in konsultasie met die aanklaers, het gesê hulle glo alles sal teen Dinsdag afgehandel wees,” het Bagraim gesê.

Die 78-jarige pediatriese onkoloog word sedert 18 Augustus in die VAE aangehou nadat hy in absentia gevonnis is vir die dood van ʼn meisie van Yemen wat hy in 2002 vir leukemie behandel het. Hy is onlangs van alle aanklagte vrygespreek, maar kon nie die land verlaat nie, aangesien ʼn staatsaanklaer appèl aangeteken het teen die uitspraak.

Volgens die berig sal hy Dinsdag in die Abu Dhabi-hof verskyn.

“Die staatsaanklaers sal moet aandui waarom hulle appèl aanteken. Indien hulle wel appèl wil aanteken, gaan hulle die redes daarvoor moet verskaf,” het Bagraim bygevoeg. “Ons prokureurs is oortuig dat hy teen Woensdag na Suid-Afrika sal kan terugkeer en ons hoop dit is wel die geval.”

Die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika (HPCSA) en ander internasionale verenigings het ʼn beroep gedoen op die VAE dat Karabus vrygelaat moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.