Karabus dalk eers oor 2 weke tuis

Prof. Cyril Karabus

Prof. Cyril Karabus (77) sal nog ‘n paar dae lank moet wag voor hy moontlik na Suid-Afrika kan terugkeer. Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) se vervolgingsgesag het 14 dae lank kans om teen sy kwytskelding te appelleer.

Karabus, ʼn pediatriese hematoloog van Kaapstad, is in 2003 in sy afwesigheid verhoor en aan strafbare manslag skuldig bevind ná die dood van ʼn driejarige leukemielyer wat hy vir ʼn kort ruk in die VAE behandel het. Hy is in sy afwesigheid tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Karabus is Augustus verlede jaar in Dubai in hegtenis geneem terwyl hy op pad terug was na Suid-Afrika nadat hy sy seun se troue in Kanada bygewoon het. Hy is weer aangekla en is in Oktober op borgtog vrygelaat, maar moes in Dubai bly.

Die VAE se mediese hersieningskomitee het Maandagaand vergader en Karabus is van alle blaam kwytgeskel. Karabus se kwytskelding is Donderdag deur die VAE se hof bekragtig.

Karabus se regspan is optimisties en glo dit is onwaarskynlik dat die VAE se vervolginsgesag teen die hofuitspraak gaan appeleer.

Karabus het vanuit Abu Dhabi aan The Star gesê hy voel goed en is gelukkig oor die kwytskelding. “Dit was ‘n lang en moeilike tyd,” het hy gesê. Hy het gesê hy sal so gou as moontlik wil terugkeer na Suid-Afrika toe, maar respekteer die prosedures wat gevolg moet word.

Lees ook:
Karabus onskuldig bevind
Karabus dalk vinnig tuis