Karhandelaar van Germiston ontsnap ná ontvoering

‘n 39-jarige man van Germiston wat Donderdag deur twee gewapende mans ontvoer en vir ‘n losprys aangehou is, het Donderdagoggend ontsnap.

“Nege Mosambiekers is daarna op aanklagte van ontvoering in Lenasia uitbreiding 10 in hegtenis geneem, nadat die man by inwoners om hulp aangeklop het en hulle toe die polisie ontbied het,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê. Van die nege persone wat in hegtenis geneem is, was ses daarvan vroue.

Die man het aan die polisie gesê hy is ‘n motorhandelaar in De Deur en is verlede Donderdag deur twee gewapende mans oorval. Hulle het hom in ‘n voertuig gedwing, geblinddoek en toe na ‘n huis in Lenasia geneem waar hulle hom in die motorhuis toegesluit het. Die vermeende ontvoerders het net daarna die man se gesin gekontak en ‘n losprys geëis.

Die man se gesin het Sondag ‘n klag van ontvoering by die polisie in Germiston aangemeld.

Die man het Donderdagoggend deur die dak ontsnap.

Die vermeende ontvoerders sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Lenasia op ‘n klag van ontvoering verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.