“Katelknaap” skuldig aan 91-jarige se moord

Albrecht Gero Muth en Viola Herms Drath Foto: thesteepletimes.com

Albrecht Gero Muth en Viola Herms Drath in Junie 2001 Foto: thesteepletimes.com

ʼn 49-jarige Duitser is Donderdag skuldig bevind aan die moord op sy 91-jarige ryk vrou. Sy was ʼn joernalis en sosiale vlinder in Washington.

Albrecht Gero Muth is skuldig bevind aan die moord op Viola Herms Drath in Augustus 2011. Hy het haar liggaam glo na ʼn badkamer gesleep in die huis wat hulle in Georgetown, ʼn eksklusiewe buurt, gedeel het.

Drath, wat in Duitsland gebore is, het as ʼn korrespondent vir die Duitse dagblad, Handelsblatt, gewerk.

Glenn Kirschner, assistent-prokureur, het aan die jurie gesê Muth was aangespoor deur hebsug en vrees, omdat hy geweet het hy is nie in Drath se testament genoem nie. Muth het glo op die dag van Drath se afsterwe ʼn wysiging aan haar stiefdogter oorhandig waarin sy glo verklaar dat Muth $200 000 (bykans R2.2 miljoen) met haar afsterwe moet ontvang.

Muth was 26 jaar oud toe hy in 1990 met die 71-jarige Drath getrou het. Plaaslike media het Muth, in die tyd wat die moord gedek is, uitgebeeld as ʼn bedrieër wat in Washington met ʼn Irakese militêre uniform paradeer (sien foto onderaan die berig). Hy het glo aangevoer hy was ‘n brigader in die Irakese weermag.

Hy was nie in die hof toe die jurie se uitspraak bekend gemaak is nie, maar was met ʼn videokonferensie uit sy hospitaalbed aan die hof verbind. Hy het vir meer as ʼn jaar lank gevas terwyl sy verhoor voorberei is en was glo te swak om sy hospitaalbed te verlaat om die hofverrigtinge by te woon. Die verhoor is al twee jaar lank uitgestel weens Muth se besluit om nie gereeld te eet nie.

Die regter het beslis dat Muth sy reg, om teenwoordig te wees terwyl die uitspraak gelewer word, van die hand gewys het weens sy besluit om te vas. Hy weeg nou ongeveer 42 kg, berig die Washington Post.

Nadat Drath dood aangetref is in die badkamer, het Muth aangevoer sy het geval. Maar die outopsie het getoon dat sy geslaan en verwurg is. Muth se prokureur, Craig E Hickein, het aan die jurie gesê sy kliënt is onskuldig en die staatsaanklaer se teorie is gebaseer op “spekulasie en veronderstelling”. Hickein sê Muth is geestelik onstabiel en moet in ʼn psigiatriese hospitaal opgeneem word.

Die regter het vroeër beslis Muth is bevoeg om verhoor te word.

Albrecht Muth het aangevoer hy was 'n brigadier in die Irakese weermag Foto: georgetowner.com

Albrecht Muth het aangevoer hy was ‘n brigadier in die Irakese weermag Foto: georgetowner.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.