Die Katolieke Kerk het homself Maandag teen die omstrede e-tolprojek in Gauteng uitgespreek.
EWN berig die kerk het gesê dit is heeltemal onaanvaarbaar van die regering om mense te laat betaal om bestaande paaie te gebruik. Die Katolieke Kerk het bygevoeg dat daar ‘n tekort aan deursigtigheid was toe mense gevra het waarom die pad so duur is.
“Mense verdien ‘n behoorlike verduideliking,” het vader Mike Deeb van die Suid-Afrikaanse Katoliekebiskoppe-konferensie oor geregtigheid en vrede, gesê. “Daar moet ‘n deursigtige geprek wees waarom e-tol so duur is,” het Deeb gesê. Volgens EWN het Deeb gesê die tolstelsel is eenvoudig nie reg nie. “Indien daar nie alternatiewe roetes bestaan nie, kan paaie nie getol word nie.” Die kerk sê hy wil in die openbaar die hofsaak teen die tolstelsel steun.
Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) is tans in ‘n hofsaak met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gewikkel. Indien die stelsel goedgekeur word, sal motoriste in Gauteng ten minste 30c per kilometer moet betaal om ‘n groot gedeelte van snelweë in die provinsie te gebruik.
Dis tog lofwaardig dat ‘n kerk getuig teen, wat hy skou as ondeursigtige, optrede van die regering. Na alles is dit immers die verantwoordelikheid van die kerk om die burgerlike owerheid voortdurend te vermaan teen enige sondige optredes
Hierdie optrede van die Katolieke Kerk hou sekerlik ook genoegsame rede in vir vermaning omdat ‘n element van misleiding in die optrede van die regering teenwoordig is deurdat die volle waarheid nie aan die publiek voorgehou word nie.
Vroeër jare was die kerk sowel die kerklike- as die burgerlike regering. Met verloop van tyd het die kerk sy posisie gedeeltelik moes prysgee ten gunste van ‘n burgerlike owerheid. Maar die kerk het steeds sy posisie as geestelike leier behou.
In ons moderne tyd het die kerk inderdaad sy posisie as ‘n owerheid in eie reg heeltemal verloor want die kerk is nie meer verteenwoordigend van ‘n totale landsgemeenskap nie. Wat egter belangrik is, wat ookal die posisie van die kerk, is dat hy nooit mag ophou om te vermaan nie. Dalk is dit raadsaam, alhoewel onwaarskynlik, dat al die kerke in die land minstens uit een mond sal praat wanneer hulle ‘n vermanende woord tot die regering rig – dit sal menslikerwys meer gewig dra as wanneer elke kerkie afsonderlike sy stem laat hoor. Oor party sal daar nie eens in die pers gerapporteer word nie. Wat ‘n jammerte dat die kerk, vir alle praktiese doeleindes, van die toneel verdwyn het en nie meer ‘n stem het nie.