Kaunda Global Mining Resources (Aurora) finaal gelikwideer

ʼn Finale likwidasiebevel is teen Kaunda Global Mining Resources, wat as Aurora Gold East Rand en Aurora Gold Orkney handel dryf, uitgereik, volgens die vakbond Solidariteit.

Regter Hans J Fabricius het die bevel Dinsdagoggend in die Noord-Gautengse hooggeregshof uitgereik. Volgens Solidariteit sal Zondwa Mandela, besturende direkteur van Aurora Empowerment Systems en die enigste direkteur van Kaunda, nou onmiddellik onderwerp word aan ʼn ondervraging rakende Kaunda se insolvensie ingevolge artikel 417 en 418 van die Maatskappywet. Mandela moes gister en eergister in die ondervragings rakende Pamodzi Gold se insolvensie getuig, maar het aangevoer dat hy te siek was om te getuig en dat al die dokumentasie wat sy getuienis ondersteun uit sy voertuig gesteel is.

Volgens Gideon du Plessis, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, kan die ondersoek na Kaunda se insolvensie uiteindelik daartoe lei dat Mandela strafregtelik vervolg word vir onder meer die aftrekkings van werknemers se salarisse wat nooit aan die betrokke statutêre instansies oorbetaal is nie. “Mandela is nou in ʼn regswurggreep en staar selfs kriminele vervolging in die gesig as hy in gebreke bly om in beide ondervragings te getuig,” volgens Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.