Kenner: ‘Geen rede tot kommer oor sonvlam nie’

Foto: www.spaceweather.com

ʼn Kenner sê daar is geen rede tot kommer na ʼn baie sterk sonvlam-uitbarsting wat se bestralingstorm Dinsdagmiddag die aarde tref nie.

News24 berig dat die sonvlam tot wydverspreide paniek gelei het op sosiale netwerke met talle mense wat meen die einddag is hier.Kobus Olckers, ’n ruimteweervoorspeller van die Ruimteweer-waarskuwingsentrum by die Hermanus Magnetiese Observatorium, sê egter die sonvlam is nie dodelik nie. “Indien jy sou doodgaan van die sonvlam sou jy gister (Maandag) doodgegaan het aangesien die ontploffing op die son gisteroggend plaasgevind het. Wanneer koronale massa-uitwerping plaasvind is die eerste ding wat die aarde tref X-strale; die ultraviolet strale. Hulle vat sowat agt minute om van die son na die aarde te beweeg. Dié bestraling kan mense affekteer, maar nie die bestraling wat vandag die aarde bereik nie.” Die bestraling het wel ʼn invloed op telefoonlyne, kragnetwerke en internetverbindings. Daar is tans verhoogde sonaktiwiteit aangesien die son, wat op sy eie as draai, elke elf jaar sy nood- en suidpool omruil. Die proses het reeds verlede jaar begin en sal na verwagting ʼn piek bereik teen die einde van die jaar of vroeg volgende jaar. Lees meer hier.

Beeld berig dat die intensiteit van die bestraling vanmiddag in Suid-Afrika ‘n hoogtepunt sal bereik. Volgens berigte is mense aangeraai om indien moontlik nie vanmiddag in regstreekse sonlig te wees nie. Dit is die sterkste sonvlam-bestralingstorm sedert 2005. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.