Kepler ontdek “hobbelplaneet”

HobbelplaneetDie Kepler-ruimteteleskoop het ‘n planeet ontdek waar weervoorspellers hul hande vol sal hê om te voorspel of dit die volgende dag somer of winter gaan wees.

Dié ongewone planeet is 2 300 ligjare van die aarde af, en wentel in 66 dae om twee sterre, ‘n oranje dwerg en ‘n rooi dwerg. Die planeet se baan is egter 2,5 grade gekantel teenoor die vlak waarop die dubbelster se twee sterre om mekaar wentel.

Die vreemdste is egter dat die planeet se as se kanteling met soveel as dertig grade binne elf jaar kan wissel. Die aarde, wat se as sowat 23,5 grade gekantel is en wat die seisoene veroorsaak, se variasiesiklus duur sowat 26 000 jaar.

Die planeet, selfs al het die seisoene mekaar nie so vinnig en ongereeld afgewissel nie, is in elk geval nie geskik vir menslike bewoning nie. Weens die nabyheid aan die twee sonne kan water op die planeet nie in vloeibare vorm bestaan nie.

‘n Tweede groot probleem is dat dit ‘n gasplaneet soos Neptunus is met ‘n swaartekrag 66 keer so sterk soos die aarde s’n, en sou dit die mens plat op die bodem vaspen … maar daar is geen bodem nie.

Bron: Nasa: Volledige verslag kan hier gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.