Kerkboek is haatspraak, bevind kommissie

Die Menseregtekommissie het Donderdag bevind dat die inhoud van die boek, “Die Raadsplan” deur Lewende Hoop Bedieninge en sy stigterspastoor, Willie Smit, haatspraak is.

“Dié kerkpublikasie gee aanstoot en is gelykstaande aan haatspraak,” het Isaac Mangena, woordvoerder vir die Menseregtekommissie, gesê. Die kommissie het in 2010 ‘n klag ontvang dat dié Vrystaatse kerk en sy pastoor die rassistiese boek, “Die Raadsplan”, geskryf en uitgegee het. Die persoon wat die klag ingedien het, het gesê die boek, die gemeente en sy pastoor beeld die wit ras op só wyse uit asof hulle deur God beskik is om superieur te wees en oor alle ander rasse te regeer.

Die publikasie is aan verskeie Christelike boekwinkels in die land versprei.

Mangena sê die kommissie het bevind dat sommige dele van die boek tot ‘n sekere mate met die persoon se klag ooreenstem.

Die pastoor en sy kerk glo dat hulle hul reg op vryheid van uitdrukking, vryheid van godsdiens, geloof en opinie uitgeoefen het om dié uitlatings te maak en neer te pen. Die kommissie se siening is egter dat die reg tot vryheid van uitdrukking nie tot so mate strek om rassehaat te verkondig nie en dat dit daartoe kan lei dat persone aangehits kan word om skade aan te rig.

Die kommissie hou vol die publikasie diskrimineer teen rasse en is gelykstaande aan haatspraak. Die kommissie bevind dat sulke publikasies onaanvaarbaar is in ‘n vry en demokratiese bestel wat gelykheid as sy sentrale tema voorstaan. Die kommissie stel voor dat die Film- en Publikasieraad stappe doen om die publikasie van alle openbareverspreidingskanale te verwyder. Hy ondersteun ook toepaslike administratiewe en ander sanksies kragtens die Wet op die Film- en Publikasieraad. Die kommissie bepaal dat die Instituut vir Rasseverhoudinge van die Universiteit van die Vrystaat, in samewerking met die Regerende Raad van die SA Raad vir Kerke met Lewende Hoop Bedieninge en Smit in gesprek moet tree om ‘n reeks rasseverhouding-sensitiseringswerkswinkels by te woon.

Die kommissie het versoek dat ‘n skriftelike verslag oor ses maande by hulle ingedien sal word oor die vordering wat gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marlene45

Sterkstaan Ds. Willie, dit is die waarheid wat hulle nie kan hanteer nie!!!! Ons bid vir jou vir krag en leiding!

H J Bester

Die Menseregtekommissie is drasties met pastoor Willie Smit en sy Lewende Hoop Bedieninge, alhoewel dit die eerste maal is dat ek van so ‘n kerkgroep hoor. Twee opinies hieroor: Eerstens sal die Menseregtekommissie, wanneer hulle die Wette van Suid-Afrika wat verband hou met Regstellende Aksie asook Swart Bemagtiging ondersoek, bevind dat dit ook distriminerend is en rassisme bevorder. Hierdie wetgewing, wat allerweë beskou is as sou dit slegs geldig wees vir ‘n bepaalde periode, blyk nou vir ewig op die Wetboek te bly. In die geval van pastoor Willie Smit van die Lewende Hoop Bedieninge, kan mens tereg bekommerd wees… Lees meer »

Peter Wolmarans

Eerstens is Ds Willie Smith nie ‘n Pastoor nie maar ‘n Dominee. Hy was in die NG Kerk maar het die Baalpriesterdom verruil vir die waarheid. Natuurlik maak die waarheid seer maar die geskiedenis is die geskiedenis en die waarheid die waarheid. Bester het geen idee waarvan hy praat nie en kan dit Bybels nie regverdig nie. Ek vra: Hoe vier ‘n bont kerk Geloftedag? Aan wie se kant het ons Hemelse Vader gestaan op 16 Desember 1838? Wie is die bruid van Jesus, die bont kerk of ‘n volk? As dit ‘n volk is, watter een? Hoe verstaan Bester… Lees meer »

Gideon Joubert

Ek glo dat 90 % of meer van die hedehdaagse pastore en of predikante wel baalprofete is soos in God se Woord beskryf. Hulle verdraai die Woord om die hedendaagse mensdom en regeerings van die dag te pas. Nie een van hulle verstaan egter God se woord nie en kan ook nie die waarheid daarvan aan hulle gemeentelede openbaar nie. Die profesie as prediker het vir hulle n’ beroep geword en nie n’ roeping nie wat vir hulle aansien in die gemeenskap gee. Hoe groot gaan hulle ontnugtering nie eendag wees nie. Die wat die klag teen Ds Smit ingedien… Lees meer »

Minda Uys

Alles wat geskryf staan in die boek “Die Raadsplan” kan gestaaf word in die 1933 Bybel.