Kerkmanne bid vir Mandela

Biskoppe bid saam vir voormalige pres. Nelson Mandela buite die MediClinic-harthospitaal op 14 Junie 2013 Foto: Werner Beukes/SAPA

Afgevaardigdes van die internasionale biskoppe-konferensie het Vrydag by die hospitaal, waar oudpresident Nelson Mandela behandel word, bymekaar gekom om vir hom te bid.

Biskop Abraham Sibiya, van die Christ Centre-kerk in Pretoria, het die groep buite die Pretoria Hart-hospitaal in Arcadia gelei. “Ons is baie bekommerd oor Mandela se gesondheid. Ons bid dat God hom spoedig sal genees en hom sterk sal maak,” het Sibiya gesê. “Ons het gekom om te bid dat Mandela se familie regoor Suid-Afrika krag kry in dié moeilike tyd. Ons bid dat God hulle sal troos en die krag en wil gee om aan te gaan.”

Hy sê Mandela is die toonbeeld van versoening, nie net vir Suid-Afrikaners nie, maar vir die hele wêreld.

“Hy is ʼn baie goeie voorbeeld van hoe die hele wêreld moet reageer op die krisisse wat hulle beleef. Tata Mandela het ons geleer dat ons, ons verskille eenkant kan sit en hande vat en saam bid.”

Sibiya het gesê hulle hoop die verouderde staatsman herstel vinnig en volkome. Hy het gesê die geestelikes respekteer die familie se beroep op privaatheid en het nie in die hospitaal ingegaan nie.

“Ons kan enige plek bid, ons hoef nie binne die hospitaal te wees nie. Laat ons almal saam glo. Laat ons almal saamkom, en regoor die wêreld hande vat. Kom ons bid tot God sodat hy president Mandela kan genees,” het hy gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.