AfriForum Jeug gaan Maandag in Pretoria se middestad ʼn kranslegging en ’n minuut van stilte hou vir alle burgerlikes wat tussen 1980 en 1994 in ANC-terreuraanvalle gesterf het. Die geleentheid vind plaas presies 30 jaar nadat die Kerkstraat-bom in 1983 19 mense se dood veroorsaak het.
“Duisende onskuldiges, swart en wit, het die prys betaal van die ANC se wreedaardige aanvalle. Die geleentheid is nie net ’n aanklag teen die ANC se ongebalanseerde oorvertelling van die geskiedenis, waarin ANC-leiers as onbevlekte helde voorgehou word nie, maar ook ’n geleentheid waar diegene wat in terreuraanvalle gesterf het se lewens herdenk word. Die ANC se donker geskiedenis word dikwels weggepraat, maar die realiteit is dat talle families steeds sukkel om die wyse waarop hulle geliefdes vermoor is, te verwerk,” het Charl Oberholzer, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug gesê.
Oberholzer het bygevoeg dat hierdie aksie deel vorm van AfriForum Jeug se veldtog teen die verdraaiing van die geskiedenis.
Lede van die publiek is welkom om die geleentheid by te woon en moet RSVP deur die woord “kerkstraat” na 31488 te SMS.