Kersboodskappe

Argieffoto

Argieffoto

Soos tradisioneel die geval is, is die regering se Kersboodskap deur die adjunk-president gelewer. Soos die tradisie dit wil hê, is die sekulêre boodskap afgesluit met die wens dat almal ‘n vrolike Kersfees (merry Christmas) sal hê.

Die leier van die DA het in haar Kersboodskap gesê Kersfees is die geleentheid wanneer ons die manifestasie van God op aarde gedenk deur liefde, opoffering en diens. Dit is wanneer die waardes wat werklik saak maak bepeins word, en geloof in dade omgesit word.

Die Vryheidsfront Plus het sy Kers- en Nuwejaarsboodskap gekombineer. Die leier, dr. Pieter Mulder vra wanneer ons die Bybelse les gaan leer om nie op Prinse te vertrou nie? Ps. 146 stel dit so mooi as daar staan dat jy nie op ’n mens moet vertrou nie. Sy asem verlaat hom en sy planne is daarmee heen. Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig. “Twee duisend jaar gelede stuur God met een beweging, deur die geboorte van Christus, die wêreld in ’n totaal ander rigting. Wat ’n troos dat die toekoms nie deur ons op ons eie uitgekap hoef te word nie – maar in Sy hande is. Met een beweging kan Hy alles oornag nuut en anders maak vir ons – ook in Suid-Afrika.”

Die IVP spreek in sy Kersboodskap die wens uit dat uitgereik sal word na hulle wat eensaam is, wat in lyding verkeer en die armes. Eie belang en plesier moet sekondêr gestel word.

Die leier van die Christen-Demokratiese Party, ds. Theunis Botha, se bede is dat ons almal die vrede en vreugde van die Seun se geboorte ervaar en die gees van dat dit saliger is om te gee as om te ontvang, beleef. “Ons bid dat die land se grootste Kersgeskenk ‘n omvattende morele herlewing sal wees – iets wat ons as Christene glo die land so bitter nodig het. Plaas God sentraal in jou lewe, en reik uit na jou medemens, veral diegene in nood. So kan on almal die liefde van God uitstraal.”

Agang het ook sy Kers- en Nuwejaarsboodskap gekombineer, en spreek die wens uit dat Suid-Afrikaners in die gees van Madiba sal leef.

Cope en die ACDP het nog geen Kersboodskap uitgereik nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ria Maritz ·

Die ENIGSTE, WARE LEWENDE GOD, GOD-drie-enig !

” … en spreek die wens uit dat Suid-Afrikaners in die gees van Madiba sal leef.” ASSEBLIEF NIE !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.