KES-weerlig: Nog drie leerlinge ontslaan

Foto deur Barry J Brady Photography op KES se Facebook-blad gelaai

Nog drie van die King Edward VII skoolseuns wat laat Dinsdagmiddag deur weerlig getref is, is Woensdag uit die hospitaal ontslaan.

“Drie van die vyf leerlinge wat in die Millpark-hospitaal oornag het, is ontslaan,” het David Lovatt, hoof van die spogskool in Houghton, Johannesburg, gesê. Twee van die leerlinge is steeds kritiek, maar volgens die skool se Twitter-blad toon hulle “geringe tekens van verbetering”. ‘n Aantal kliniese sielkundiges en lede van die Gautengse departement van onderwys het Woensdag die skool besoek om die leerlinge en personeellede te ondersteun.

“Ek wil graag die lede van die King Edward-gemeenskap bedank vir hul volgehoue ondersteuning, en veral almal wat Dinsdag in die mediese behandeling van ons leerlinge betrokke was,” het Lovatt bygevoeg. Die skool versoek dat geen kaartjies of blomme aan die hospitaal gestuur moet word nie, maar dat ondersteuning eerder aan Me. Wessels, ontvangsdame by die skool, gerig moet word. Daar was Woensdag geen aktiwiteite by die skool nie.

“Gedagtes en gebede aan die KES-krieketspelers wat deur weerlig getref is,” het Graeme Smith, kaptein van die Proteas-krieketspan en voormalige leerling aan die skool, op sy Twitter-blad gesê.

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.