Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Woensdag gesê politieke partye moet nie kiesers met busse na die verkiesing toe aanry nie.
“Dit is ‘n bedreiging vir demokrasie,” het adv. Pansy Tlakula, voorsitter van die OVK gesê. “Ons merk op dat daar ‘n verskynsel is dat kiesers met busse aangery word, veral in hierdie provinsie,” het Tlakula aan die KwaZulu-Natalse wetgewer in Pietermaritzburg gesê. “Dit neem tot so ‘n mate toe dat twee munisipale verkiesings al gekanselleer moes word weens sulke bewerings.”
Tlakula het dié opmerking gemaak in haar verslag oor die OVK se gereedheid vir volgende jaar se nasionale verkiesings. Tlakula sê dat alhoewel die OVK die verskynsel probeer beperk, hy beperkte sukses behaal. “Ons het meganismes ingestel, maar dit lyk of die politieke partye beter as ons vaar.”
Sy doen ‘n beroep op politieke partye om dit te staak, aangesien dit die verkiesingsproses benadeel. Sy sê die geloofwaardigheid en stabiliteit van vorige verkiesings het die Europese Unie en Statebond genoop om nie meer waarnemers te stuur om die verkiesing te monitor nie. Sy doen egter ‘n beroep op plaaslike nie-regeringsorganisasies om steeds die verkiesing te monitor.