Kind ontvoer vir muti

ʼn 4-jarige seuntjie is veilig by die huis nadat hy deur vier mans ontvoer is wat glo sy liggaamsdele vir muti wou verkoop.

Die Daily Voice het Donderdag berig, die seuntjie, Lukhanyo Mtshengu van Kaapstad, is Dinsdag in ʼn rooi Toyota Corolla ingeboender. Die voorval het omstreeks 9:00 in Idadaweg in Khayelitsha gebeur terwyl hy gespeel het. Omstanders het die voorval aanskou, die voertuig se registrasienommer neergeskryf en die polisie ontbied. Die vier verdagtes het kort daarna na die toneel teruggekeer waar ʼn groep woedende inwoners hulle ingewag en aangekeer het.

Die seun se tannie, Lungiswa, sê een van die mans het erken dat hulle gestuur was om ʼn kind te kry. “Hulle het gesê hulle het Lukhanyo na ʼn sangoma gevat, maar die sangoma wou nie die kind hê nie omdat hy te donker was. Die sangoma het ʼn kind met ʼn ligter vel gesoek. Nadat hulle agtergekom het dat Lukhanyo nie aan hul baas se vereistes voldoen nie, het hulle hom sowat 500 meter van waar hy gespeel het gaan aflaai,” het sy gesê.

ʼn Inwoner het die seuntjie op ʼn straathoek gevind en huis toe gevat. Hy was kaal en het sy nat klere teen sy lyf gehou.

Kaptein Frederick van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, sê die mans tussen die ouderdom van 24 en 56, is van ontvoering aangekla en is steeds in aanhouding.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.