“Kinderhandelaars” borgtog geweier

Drie beskuldigdes wat twee kinders vir R80 000 elk wou verkoop, is deur die Johannesburgse Landdroshof borgtog geweier. Die saak sal vanaf Oktober voorkom.

Shaheed Hassen, Zaida Hardien en Yota Madeleine Yuma is in September in hegtenis geneem nadat twee kinders in Julie vanjaar uit ʼn skuiling in Booysens, Johannesburg verdwyn het, berig EWN. Die drie staan tereg vir kinderhandel.
Hassen en Hardien het na bewering die twee kinders aan Yuma probeer verkoop, wat uit die Demokratiese Republiek van die Kongo hierheen gevlieg het. Hassen en Hardien staar ook aanklagte van ontvoering in die gesig.

Personeel van die skuiling het aan EWN gesê die paartjie het voorheen al vrywilligerswerk by die skuiling gedoen, en hulle was geskok oor die kinders se ontvoering. Hassen en Hardien het vir die skuiling gesê hulle neem die kinders na ʼn verjaardagpartytjie, maar hulle is nie daarna teruggebring na die skuiling nie.

Na ʼn e-posveldtog om die kinders op te spoor, van stapel gestuur is, is die twee kinders opgespoor in ʼn huis in die ooste van Johannesburg.

In haar borgtogaansoek het Yuma aangevoer Hardien het haarself as ʼn maatskaplike werker voorgedoen en dat sy glad nie besef het die “aanneming” is onwettig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.