Kinderporno-saak: Familielede kry borg

Sewe van die nege familielede wat tereg staan op aanklagtes wat verband hou met kinderpornografie tydens 'n hofverskyning vroeër vanjaar. Foto: Giordano Stolley/SAPA

Agt familielede van Pretoria, wat op talle aanklagte tereg staan wat verband hou met kinderpornografie, is in die Noord-Gautengse hooggeregshof op borgtog vrygelaat.

Die agt familielede het appèl aangeteken in die Noord-Gautengse hooggeregshof nadat die Pretoria Noord landdroshof amper ʼn jaar gelede terug geweier het om borg aan die beskuldigdes toe te staan. Regter Francis Legodi het die agt verdagtes op borgtog van R15 000 elk vrygelaat. Hulle moet twee keer per dag by die Hercules-polisiestasie aanmeld en mag nie die Pretoria Noord-omgewing verlaat sonder toestemming van die ondersoekbeampte nie. Die beskuldigdes mag ook nie kontak maak met die ses kinders wat verlede jaar uit hulle sorg verwyder is nie. Die 58-jarige oupa het egter vroeër sy borgaansoek teruggetrek en bly in aanhouding. Agt familielede is in Desember verlede jaar op hoewes noord van Pretoria in hegtenis geneem. ʼn Negende familielid is in Januarie by haar werkplek in Hammanskraal in hegtenis geneem. Daar is 23 aanklagte teen dié ouers, grootouers, ooms en tantes. Dit sluit in verkragting, gedwonge verkragting, seksuele aanvoorwerk en die maak en versprei van kinderpornografie. Die vier paartjies en een van hulle se ongetroude seun se verhoor sal na verwagting in Desember begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.