Kinders sterk aan ná by-aanval by Hasiepark

Kleuters van ʼn kleuterskool wat gister erg beseer is nadat ʼn swerm bye hulle aangeval het by die Hasiepark in Benoni, sterk goed aan.

Volgens ʼn suster by die Charlotte Maxeke-hospitaal was een kind wat Vrydag in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem is, Saterdagmiddag buite gevaar. Sy sê egter die kind moet nog in die hospitaal behandel word.

 

Maroela Media het Vrydag berig sowat 44 kinders is beseer toe hulle Vrydagmiddag deur ʼn swerm bye aangeval is by die Hasiepark in Benoni.

 

Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het gesê die slagoffers was almal van ʼn kleuterskool wat op pad huis toe was na ʼn uitstappie by die park. “Dit is nie seker wat die bye aangehits het om die kinders aan te val nie. Die kinders het vir ʼn bus gewag toe die swerm bye hulle uit die bloute aangeval het,” het Botha gesê. Die kind wat kritiek beseer is moes met ʼn helikopter na die hospitaal geneem word. “Die ander kinders is op die toneel gestabiliseer en na verskeie hospitale geneem vir verdere behandeling.”

Die naam van die kleuterskool is nog nie bekend nie. Die Hasiepark kon nie Saterdag vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.