Kinders van die Wind-beurs vir studente wat ligte musiek wil studeer

Koos du Plessis

Koos du Plessis se liedjie, Kinders van die Wind, is aangewys as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye

ʼn Spesiale beurs vir studente wat ligte musiek wil studeer is op die been gebring om die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye, Kinders van die Wind, te vereer en te verewig.

“Maroela Media wou graag die liedjie wat die titel Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye ontvang, op ‘n besonderse manier verewig, sodat dit meer is as net ‘n titel wat toegeken en vergeet word,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê.

Die Kinders van die Wind-beurs vir ligte musiek is by die bekendmakingsgeleentheid van die wenliedjie bekendgestel. Klik hier om meer oor die veldtog en die wenliedjie te lees.

Die beurs word geadministreer deur die Helpende Hand-beursfonds. “Die fondse in die beurs sal aangewend word om ‘n Afrikaanssprekende student wat ligte musiek of, indien daar ‘n gebrek aan gepaste aansoeke is, ‘n kuns en kultuur-rigting studeer, finansieel te ondersteun,” het Lombaard bygevoeg.

Die beurs word befonds deur Steve Booysen en sal elke jaar toegeken word aan ʼn Afrikaanse persoon/persone wat ingeskryf het om ligte musiek te studeer.

Die eerste ontvanger van die Kinders van die Wind-beurs word op 15 November vanjaar bekend gemaak, vir studies volgende jaar. “Die waarde van die beursfonds wissel, aangesien ander mense ook tot die beursfonds kan bydra om dit te laat groei,” het Lombaard gesê.

Lede van die publiek kan ook bydra tot die Kinders van die Wind-beurs, ten einde die beurs te laat groei sodat soveel moontlik studente uiteindelik hiermee gehelp kan word. Mense wat ‘n bydrae tot die Kinders van die Wind-beurs wil maak, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.