Kinders van St Helena Baai word glo vergif

AfriForum gaan gevaarlike gasvrystellings van verskeie visfabrieke in St Helena Baai aanspreek.  Dit volg op ʼn desperate pleidooi deur die plaaslike gemeenskap om die vergiftiging van kinders in skole en dagsorgsentrums oorkant die straat van die fabrieke stop te sit.

Volgens Lillian Alberts, ʼn lid van die burgerregte-organisasie AfriForum, is die inwoners van St Helena Baai en aangrensende gebiede die slagoffers van omgewingmisdaad. “Die publiek se gesondheid is in gevaar na bewering as gevolg van die groot hoeveelheid giftige vrystellings, wat waterstofsulfied (H2S) insluit, wat in die lug uitgelaat word deur plaaslike vismeelfabrieke. Daar is bewys dat kroniese lae-vlak inaseming van H2S so giftig is as die akute vlakke waterstofsianied wat gebruik is om mense in Nazi-kampe meer as 60 jaar gelede uit te wis,” sê Alberts.

Die regering word al sedert 2009 in kennis gestel van die hoë voorkoms van kanker en ander gesondheidsverwante probleme in St Helena Baai vóór ʼn menslike gesondheidsrisiko-evaluering (MGRE) gedoen is. Toe die departement van omgewingsake gevra is om ‘n amptelike ondersoek in te stel na die inwoners se gesondheidstoestand, het hulle geweier. “Die hartseerste deel is dat staatsamptenare hulle toestemming gee dat die lewens van die mense, wat hulle salarisse betaal, vernietig word,” sê Alberts.

Vismeelfabrieke prosesseer vismeel teen ‘n enorme koers onder die dekmantel dat hulle met die regering se toestemming  werk ten spyte daarvan dat hulle ‘n ​​groot verskeidenheid giftige gasse afgee. Volgens Alberts is dit teenstrydig met die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Luggehalte (Wet 39 van 2004) wat meer as twee jaar gelede ingestel is.

AfriForum gaan die Minister van Omgewingsake vra om aksie te neem teen diegene wat verantwoordelik is vir die onwettige emissies, na aanleiding van haar toespraak in die parlement verlede jaar wat aangedui het dat daar geen verdere studies beplan word nie, aangesien die MGRE ‘voldoende bewyse’ van die impak van die vrylating van gasse van visverwerkingfabrieke op die gemeenskappe van St Helena Baai verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.