Kinderverkragter se vonnis reeds 71 keer uitgestel

ʼn Kinderverkragter se saak is Woensdag vir die 71ste keer in vier jaar deur die landdroshof in Nelspruit uitgestel, het die polisie in Mpumalanga gesê.

Lt.kol. Leonard Hlathi het gesê Andries Mfana Sibiya se saak is tot 2 Mei uitgestel. “Dit is uitgestel weens die feit dat hy beweer het hy is moeg.” Sibiya (55), ʼn predikant, het ʼn 13-jarige meisie tussen 1998 en 2007 verkrag en drie kinders by haar gehad. Hy het tydens sy verhoor aan die hof gesê dat God hom beveel het om kinders te kry sodat sy gesin eendag hemel toe kan gaan. Hy is op 2 April 2008 skuldig bevind op nege aanklagte van verkragting en is sedertdien in aanhouding. Gedurende die afgelope vier jaar is sy vonnis herhaaldelik uitgestel, aangesien Sibiya beweer het hy is siek. Beeld berig dat hy tydens sy vorige verskyning in die hof, op 28 Maart, op ʼn rolstoel in die hof ingestoot is, homself op die vloer gewerp het en begin rondrol het, totdat hy uiteindelik voor die beskuldigdebank tot rus gekom het. Hlathi sê Mfana het ook ʼn hele paar keer voor sy verskyning in die hof op eetstakings gegaan en dan beweer hy is te siek om die hofverrigtinge by te woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.