Kings kry oorwinning in PE

Vanaand se stryd om die Super15-houtlepel te vermy was sekerlik een van die aanskoulikstes van die jaar en die Kings het hom gewen.

Die telling was 34-27 toe die eindfluitjie geblaas het en die rustydtelling was 20-17. Die Highlanders het twee bonuspunte verdien en die Kings een saam met die vier punte wat hulle danksy die oorwinning in die sakkie het. Die Kings is ook die enigste Suid-Afrikaanse span wat hierdie naweek teen oorsese opposisie kon wen.

Die Kings het heel duidelik hul introspeksie en tegniese ontleding vandeesweek gaan doen nadat hulle ‘n behoorlike loesing teen die Waratahs gekry het. Hul balhantering en ondersteunende spel was uitstekend, hul ondernemingsgees uit die boonste rakke en dit wil blyk of hulle meer word as die somtotaal van hul dele met ‘n goeie spangees wat posgevat het.

Die wedstryd het gesorg vir ‘n drieëfees met nie minder nie as agt wat gedruk is. Nie eens een minuut van hierdie kragmeting het die toeskouers en kykers by die huis louwarm gelaat nie. Die Kings se kaptein, Luke Watson, het twee drieë vanaf rolmaalbewegings in die eerste helfte gedruk om deur sy voorbeeld te lei. Die Highlanders-kaptein, Brad Thorn, en die All Black, Colin Slade, het ook albei pragdrieë gedruk voordat die halftydtoeter geblaas het.

Die tweede helfte was nes die eerste een ‘n gelykopstryd met twee vroeë drieë deur onderskeidelik die tuisspan se agtsteman, Cornell du Preez, en skrumskakel, Shaun Venter, en twee latere vyfpunters vir die besoekers se Hosea Gear en Shaun Treeby.

Die verskil in die uitslag was die gehalte van die skopwerk pale toe. Die Kings se Demetri Catrakilis het met al ses sy pogings pale toe geslaag, maar Slade kon slegs drie oorskop.

Die Kings het volgende week ‘n welverdiende loslootjie en die Highlanders se voorland lyk uiters onheilspellend: Die Bulls op Loftus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.