Kings wen Melbourne-riller

Demetri Catrakilis Foto: www.skings.co.za

Die Kings se skerpskutter-losskakel, Demetri Catrakilis, het die Rebels se harte gebreek met ‘n skepskop in die doodsnikke om sy span te laat seëvier in Melbourne.

Die besoekers het hul teenstanders met 30-27 getroef in ‘n uiters spannende wedstryd. Beide spanne het rustyd met 17 punte elk tegemoet gegaan.

Die Kings sal terugkeer na Suid-Afrika met hope selfvertroue nadat hulle hul eerste oorwinning in Australasië behaal het en verlede week gelykop met sekerlik die beste span in die Super15, die Brumbies, gespeel het.

Nadat die Rebels die spel in die eerste 10 minute gedomineer het, het die Kings-vleuel Ronnie Cooke waarlik gekook toe hy in die hoekie vir die Kings se eerste punte afgerond het. Catrakilis het dit 7-0 gemaak.

Kort daarna het die Oos-Kapenaars se Shaun Venter met ‘n fopaangee op die middellyn deurgebars en met nog só ‘n aangee die laaste verdediger geklop om oor te duik vir sy span se tweede drie. Die Kings was stewig in beheer met die telling op 14-0 toe Catrakilis geen fout met die doelskop gemaak het nie.

Maar die Rebels het gewys hulle gaan nie lê nie en die haker, Ged Robinson, het danksy ‘n rolmaalbeweging sy span op die telbord gekry. James O’Connor het die verskil tot sewe punte laat krimp met sy geleerde skopvoet.

O’Connor en Catrakilis het elkeen ‘n strafskop oorgekits voordat die Rebels ná verbete druk deur middel van Angus Roberts vyf punte behaal het.

Die Kings het drie strafskoppe in die eerste drie minute van die tweede helfte afgestaan en O’Connor het hulle vir die derde een laat betaal toe hy dit 20-17 gemaak het.

Die Rebels het verwoed op die besoekers se doellyn afgepeil en die buitesenter Mitch Inman het in ‘n uiters geringe gaping in die hoekie oorgeduik om sy span se neuse verder voor te plaas.

Met die telling op 27-17 het Catrakilis danksy ‘n strafskop sy span se agterstand laat krimp na 27-20. Hoewel die Kings talle swak besluite in die laaste 15 minute geneem het, het die flank Wimpie van der Walt in die 76ste minuut gedruk toe sy span se rolmaalbeweging die Kings aan bande gelê het.

Met die tellings gelykop en spel reeds verby, het Catrakilis onder ontsaglike druk ‘n skepskop oorgesit tot groot vreugde van sy spanmaats en al die Kings-ondersteuners.

Die Kings durf volgende week die Bulls aan op hul tuisveld in Port Elizabeth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.