“Kla munisipale bestuurders krimineel vir wanbestuur van finansies aan” – AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag sy jaarlikse konferensie oor plaaslike regeringsake aangebied. Tydens die konferensie het AfriForum aangekondig dat die organisasie aan sy landswye netwerk van takke pro forma beëdigde verklarings en riglyne gestuur het wat gemeenskappe kan gebruik om kriminele klagtes teen ʼn munisipale bestuurder te lê indien hy/sy finansiële bestuurswetgewing oortree.

Volgens Pieter Rautenbach, AfriForum se woordvoerder oor plaaslike regeringsake, het sowat 100 afgevaardigdes die konferensie bygewoon wat hoofsaaklik gefokus het op hoe gemeenskappe rekenskap van hul munisipale owerhede kan opeis, spesifiek met verwysing tot finansiële wanbestuur.

“Sprekers by dié konferensie het die noodsaak van deelname aan plaaslike owerhede se prosesse uitgelig en daarop gewys dat gemeenskappe wel amptenare tot verantwoording kan roep,” het Rautenbach gesê.

Dayalan Pillay, die uitvoerende direkteur van inkomstebestuur van die Tshwane-metroraad, het die konferensie oor munisipale rekeninge en sekere wanpersepsies wat daaroor kan ontstaan toegespreek. Hy het ook eiendomsbelasting en kredietbeheermaatreëls bespreek.

Werner Zybrands, ʼn kundige op die gebied van wetgewing oor plaaslike regering, het die konferensie toegespreek oor die manier waarop die publiek groter inspraak in die aanwending van munisipale belasting kan verkry.

Mare-Lise Fourie, ʼn voormalige stadstesourier en dosent aan die Universiteit van Pretoria, het duidelike riglyne en prosedures voorgehou wat die publiek kan volg om insette met die opstel van munisipale begrotings te lewer. Fourie het ook gewys op stappe wat teen munisipale amptenare, wat publieke fondse verspil, geneem kan word. Dit sluit strafregtelike stappe in.

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se hoof van gemeenskapsake, het AfriForum tydens die organisasie se 2011-konferensie ʼn strategie vir burgerlike betrokkenheid bekendgestel. Vanjaar se konferensie sit dit voort. Hierdie omkeerstrategie help onder meer om gemeenskapsleiers se kennis oor munisipale aangeleenthede deur opleiding op te skerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.