Klagtekanaal ná 10111-noodlyn diens in Afrikaans weier

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

AfriForum moes onlangs tydens ʼn poging om ʼn misdaad aan te meld, aanhoor dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se 10111-noodlynoperateurs weier om oproepe in Afrikaans te aanvaar. Toe daar om Afrikaanse diens gevra is, is die oproep summier deur die 10111-operateur afgesny.

“Die nooddienssentrum tree nie net ongrondwetlik op nie, maar stel ook letterlik inbellers se lewens in gevaar met die optrede,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum wat verantwoordelik is vir taalkwessies, gesê. “AfriForum is van plan om die saak met die Nasionale Polisiekommissaris, Riah Phiyega, te bespreek en het ʼn klagtekanaal op AfriForum se webwerf van stapel gestuur om te verneem van lede van die publiek wat soortgelyke ervarings gehad het.

Volgens Bailey is dit die hoeveelste voorbeeld van die SAPD se verontagsaming van hulle verantwoordelikheid om minstens in alle amptelike landstale diens te lewer, soos die Grondwet, Wet op die Gebruik van Amptelike Tale en ook die Dienshandves vir Misdaadslagoffers voorskryf. “AfriForum beskou hierdie jongste insident in ʼn uiters ernstige lig, aangesien dienslewering deur die 10111-nooddienspersoneel letterlik lewensnoodsaaklik is,” het Bailey gesê.

Op 7 Januarie 2014 het AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, Ernst Roets, ʼn klagte teen die Lyttelton-polisiestasie in Centurion gelê weens weiering om ʼn Afrikaanse verklaring van hom oor ʼn diefstal-insident te aanvaar. Die klag het positiewe gevolge gehad – AfriForum en die polisiestasie werk tans in ʼn goeie gees saam aan maatreëls om te verseker dat ʼn soortgelyke probleem nie weer daar voorkom nie. Meer inligting sal volgende week hieroor bekend gemaak word.

Ongelukkig word nog klagtes oor die polisie se eentalige Engelse dienslewering ontvang. “Alle Suid-Afrikaners is nie Engels magtig nie of hulle Engels is nie van so ʼn aard dat hulle verklarings daarin kan aflê óf afneem op ʼn standaard wat in ʼn hof sal kan standhou nie. Taalprobleme kan letterlik die regsproses verydel. Misdaadslagoffers het die reg om in hulle eie taal diens te ontvang en AfriForum wil toesien dat die SAPD hierdie plig teenoor die publiek nakom,” het Bailey beklemtoon.

Enigeen wat taalprobleme by enige Suid-Afrikaanse polisiestasie, of tydens ʼn oproep na 10111 ervaar het, word versoek om die inligting aan AfriForum bekend te maak deur ʼn vorm op die webwerf www.afriforum.co.za in te vul, of dit aan [email protected] te stuur. AfriForum onderneem om die klagtes onder die kommissaris van polisie se aandag te bring en so gou as moontlik volhoubare oplossings daarvoor te probeer vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ria Maritz ·

Nogmaals dankie AfriForum !

Ek bly by my standpunt, my moedertaal is Afrikaans, en ek DRING DAAROP AAN om in my moedertaal bedien te word.

Die SAPD is ALLERMINS ‘n besigheid – hulle is daar om die land te DIEN. Dis onaanvaarbaar om altyd die knie te moet buig om ander te akkommodeer, dit terwyl hul wel Afrikaans magtig is.

Kobus ·

Wie word deur die SAPD se werwingskantoor in diens geneem?Hulle wat Afrikaans haat.Sit maar die Engelse tande in Roets.

sarie ·

Ja dis nou tipies,jare trug sou hulle jou nog help ,ons mag mos ons taal gbruik,die korrupsie aan daai kan is so groot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.