Klagtes oor Woolworths se toekenning

Marks & Spencer en Woolworths SA word vereer. Foto: World Retail Congress

Klagtes is by die World Retail Congress (WRC) aanhangig gemaak nadat hulle Woolworths SA by die World Retail Awards 2012 as die “Verantwoordelike handelaar van die jaar” aangewys het.

Maroela Media het Dinsdag berig Woolworths is vir die derde agtereenvolgende jaar as die “Verantwoordelike handelaar van die jaar” aangewys. Marks & Spencer, wat in Engeland baseer is, is as gesamentlike wenner in die kategorie aangewys.

Woolworths ontvang dié eer midde ‘n tydperk waar hy glo deur verskeie Suid-Afrikaners geboikot word, omdat hulle vakante poste adverteer wat uitsluitlik vir “swart Afrikane” of slegs “Afrikane, bruin mense en Indiërs” oop is. Woolworths beweer hulle voldoen aan die land se Wet op Gelyke Indiensneming. Die vakbond Solidariteit sê egter: “Die Wet op Gelyke Indiensneming maak nie voorsiening vir die uitsluiting van enige ras wanneer dit by aansoeke kom nie. Hierdie advertensies kom neer op ’n absolute kwota, wat die wet doelbewus verbied,” het die vakbond gesê.

ʼn Klagte wat aan WRC op hul Facebook-blad gerig is, lui: “Dit is ʼn jammerte dat die toekenning gedeel word tussen Marks & Spencer en ʼn rassistiese maatskappy van Suid-Afrika. Woolworths het ʼn groot hoeveelheid van hul klante vervreem deur poste vir sekere rasse te adverteer,” het Pierre Jordaan geskryf.

Johan Spies skryf: “Woolworths die verantwoordelike handelaar vir die jaar? Wat ‘n grap. Ek kan nie glo die WRC assosieer hulself met ʼn rassistiese maatskappy in Suid-Afrika nie, wat nog te sê om hulle te vereer. Julle maak gekke van julself en in die proses maak julle die toekenning goedkoop.”

Marie Atkinson besing egter Woolworths se lof. “Meeste van Woolworths se kliëntebasis het aangehou om hulle te ondersteun. Die boikot word slegs deur ʼn minderheid uitgevoer,” het sy geskryf.

Die WRC het reageer dat hulle van die situasie bewus is. “Die WRC-span is bewus van die omstredenheid oor die toekenning van die “Verantwoordelike handelaar vir die jaar “-trofee aan Woolworths SA. Ons toekenning is aan die maatskappy aangebied, omdat dit aan ʼn reeks kriteria voldoen het. Inskrywings vir die kategorie het omstreeks drie maande gelede gesluit voor enige omstredenheid oor Woolworths uitgebreek het.”

Justin Smith, Woolworths se woordvoerder, het Dinsdag gesê die toekenning vereer Woolworths se klante, aandeelhouers, verskaffers en werknemers, wat verstaan dat die land se toekomstige groei afhanklik is van almal se deel daarin om by te dra tot ʼn beter omgewing en samelewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.