Klankgreep: vrou kla oor takbokke deur “deer crossing”-tekens mislei word

ʼn Amerikaanse vrou het onlangs omroepers by ʼn plaaslike radiostasie sprakeloos gehad toe sy tydens ʼn inbelprogram die owerhede ernstig versoek het om “deer crossing”-tekens na veiliger en stiller paaie te verskuif. Volgens haar behoort ongelukke wat veroorsaak word deur takbokke wat snelweë en ander besige paaie kruis, drasties af te neem indien daar nie padtekens is wat die takbokke onder die wanindruk bring dat dit veilig is om daar die pad oor te steek nie.

Die vrou, wat bloot bekend is as “Donna”, het die radiostasie Fargo in North Dakota gedurende hul oggend-inbelprogram geskakel en gesê haar pleidooie aan owerhede en briewe aan die pers oor die aangeleenthede werp geen vrugte af nie. Sy het gesê sy was reeds in drie ongelukke as gevolg van takbokke wat voor haar oor ʼn besige pad gestap het, en in al drie gevalle was daar “deer crossing”-tekens wat, volgens haar, vir die takbokke aangedui het dat dit ʼn veilige plek is om die pad oor te steek.

Die omroepers se pogings om aan haar te verduidelik dat die padtekens daar is om motoriste te waarsku dat daar baie takbokke in die omgewing is, en dat dit nie vir die takbokke ʼn aanduiding is dat hulle die pad daar mag oorsteek nie, het op dowe ore geval.

Luister hier na die gesprek tussen Donna en die omroepers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.