Klasaksie-eis van R79 miljard teen Transnet

ʼn Klasaksie-eis van R79 miljard is namens 66 000 van Transnet se afgetrede lede ingedien nadat Transnet glo hulle pensioenfondse stelselmatig geplunder het.

Rapport berig dat die eis Vrydag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is. Volgens hofstukke het die “ooglopend onwettige wyse” waarop die fondse gestroop is onlangs na vore gekom toe prokureurs wat die pensioenarisse verteenwoordig die finansiële state van die fondse verkry en ontleed het. Die fondse se belangrikste bates, skuldbriewe ter waarde van R7,7 miljard wat elke jaar ’n inkomste van R1,2 miljard aan die fonds verskaf het, is glo vroeg in 2001 vir aandele in MTN, destyds M-Cell, verruil ter waarde van sowat R1,4 miljard. “Daar is geen aanduiding dat die fondse enige inkomste verkry het van die M-Cell aandele nie,” het Leon Kellerman SC, een van die regsverteenwoordigers in die saak, in hofstukke geskryf.

Volgens ʼn beëdigde verklaring van een van die pensioenarisse, Johan Pretorius, is die fonds geplunder ten einde Transnet se balansstaat te verbeter, met die wete van die voormalige minister van openbare werke en finansies, Jeff Radebe en Trevor Manuel. Ongeveer die helfte van die pensioentrekkers is wit en sowat ʼn derde is swart. Die eis bestaan uit skuld van sowat R17,1 miljard wat Transnet en die regering in 1990 erken het hy aan die fonds verskuldig is met die kommersialisering van Transnet in 1990, met rente teen 12% per jaar. ʼn Verlies van R5,4 miljard word ook geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Dis kommerwekkend om te weet hoeveel swak sakebesluite deur sogenaamde Staats-ondernemings gedurende die afgelope jare geneem is. Die rede is dat kundige persone deurgaans vervang is met onbevoegde politieke aanstellings deur die ANC-regering.

AL Oosrthuizen ·

Ek is ook n pensioentrekker en dit gaan moeilik! Deur n gestoopery van die eens magtige spoorweg pensioenfonds. Ons is nie n keuse gegee nie ons is net in n tweede vaste voordeel pensioenfonds ingesmyt! Dankie aan almal wat die saak hanig gemaak het en Transnet hof toe vat na wat hul met ons geld gedoen het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.