Kledingstuk van spinnekopsy by museum uitgestal

ʼn Merkwaardige goue mantel wat van die sy van spinnekoppe gemaak is, sal van Woensdag in Londen se Victoria en Albert-museum uitgestal word.

Die 4m-lange handgeweefde materiaal, die grootste voorbeeld van dié materiaal in die wêreld, het ʼn natuurlike goue kleur en is gemaak van die sy van meer as een miljoen Golden Orb-wyfiespinnekoppe wat in die hooglande van Madagascar deur 80 mense oor vyf jaar bymekaar gemaak is. Dit is deur die Brit, Simon Peers, en die Amerikaner, Nicholas Godley, wat beide jare lank in Madagascar gewoon en gewerk het gemaak, en is deur 19e eeuse illustrasies wat dié vergete kuns uitbeeld, geïnspireer. Die laaste keer dat ʼn stuk materiaal van spinnekopsy gemaak is, was in 1900 vir die Paryse Universele Tentoonstelling, maar geen voorbeelde hiervan bestaan meer nie. Die spinnekoppe word elke oggend in groepe van 24 spinnekoppe bymekaar gemaak en word dan in ʼn spesiale harnas vasgemaak wat dit vir die hanteerders moontlik maak om die sy te onttrek. Teen die einde van die dag word die spinnekoppe weer in die veld losgelaat. Die proses is uitermatig langsaam, ʼn gemiddeld van 23 000 spinnekoppe word benodig om ongeveer 28 g sy te maak, het die V&A gesê. Die kledingstuk word tussen 25 Januarie en 5 Junie by die museum uitgestal.

Klik hier om na ‘n video oor dié merkwaardige kledingstuk te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.