Klein pratende robot as metgesel na ruimtestasie gestuur

Kirobo

‘n Video en foto’s volg onderaan die berig.Japan het Sondag ‘n vuurpyl met voorraad vir die bemanning van die internasionale ruimtestasie, tesame met ‘n klein robot wat as ‘n reisgenoot vir een van die land se ruimtevaarders sal dien, lanseer.

Die H-2B-vuurpyl is Sondag om 04:48 plaaslike tyd van die suidelike eiland Tanegashima lanseer, het die Japanse Aerospace Exploration Agency (JAXA) getoon. “Die HTV4-module het, soos geskeduleer, van die vuurpyl af weggebreek en reis nou na die internasionale ruimtestasie (ISS),” het ‘n woordvoerder van JAXA gesê. “Verdere inligting oor sy vordering sal later gegee word, soos en wanneer dit beskikbaar is.”

Die module sal na verwagting op 9 Augustus by die ISS aankom.

Die onbemande vuurpyl vervoer drinkwater, kos, klere en werksvoorrade vir die ses permanente bemanningslede by die ISS.

Die jaarlikse sending, wat vroeër deur lande soos Amerika en Rusland uitgevoer is, versamel ook rommel van die ruimtesentrum.

‘n Klein robot, wat kan praat, het Sondag se sending vergesel. Die robot is ontwerp om as geselskap te dien vir ruimtevaarder Koichi Wakata, wat later vanjaar by die ruimtestasie sal aansluit. Kirobo is maar 34cm lank en weeg net een kilogram. Hy is swart en wit met rooi stewels. Hy kan in Japanees kommunikeer en hou verslag van sy gesprekke met Wakata, wat die eerste Japanese ruimtevaarder sal wees wat in beheer staan van die ISS.

Kirobo se skepper, Tomotaka Takahashi en sy span het foto’s, wat naby die lanseerplatform geneem is, op Twitter publiseer. “Die lansering was so mooi en asemrowend,” het hulle getwiet. “Dankie vir almal wat ons projek volg.”

Kirobo het in Junie met sy kommunikasievermoë gespog: “Dit lyk soos ‘n klein treetjie, maar dit is ‘n reuse sprong vir ‘n robot,” het hy gesê.

“Kirobo sal mnr. Wakata se gesig onthou sodat hy hom kan herken wanneer hulle mekaar in die ruimte ontmoet,” het Takahashi gesê. “Hy is die eerste robot wat die ruimtestasie besoek.”

Die robot sal glo ook ‘n rol speel in sommige sendings, om boodskappe van die beheerkamer na die ruimtevaarder oor te dra. Dit is glo ook deel van ‘n studie om te bepaal hoe ‘n nie-menslike metgesel emosionele ondersteuning kan verskaf aan mense wat vir ‘n lang periode geïsoleer word.

[nggallery id=148]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.