Kleinfontein nooi DA-jeugleier vir koffie en melktert

Koffie en melktert wag op die DA-jeugleier, Mbali Ntuli, wat Kleinfontein vandag gaan besoek. Die DA-jeugleier het aangekondig dat sy dié Afrikaner-nedersetting gaan besoek uit protes teen die feit dat net Afrikaners op Kleinfontein bly.

In ‘n verklaring sê Ntuli dat hulle vandag sal demonstreer dat verskeidenheid en nie-rassigheid almal se lewens beter kan maak. “Ons moet mense bevry van hulle apartheid-denke. Die meeste mense uit alle gemeenskappe is gekant teen hierdie soort rassisme en wil ‘n beter toekoms saam bou. ”

‘n Storm het die afgelope week rondom die Kleinfontein-gemeenskap losgebars nadat dit aan die lig gekom het dat dit ‘n uitgesproke Afrikaner-gemeenskap is.

Phumla Williams, die hoof uitvoerende beampte van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsels, het gesê die regering het ‘n afkeer daarin dat daar individue is wat nie in ‘n demokratiese Suid-Afrika wil integreer nie.

In ‘n onderhoud met Maroela Media het Jan Groenewald, voorsitter van Kleinfontein se direksie, die jeugleier genooi om die Afrikanerkultuur in dié gemeenskap te kom geniet. “Ons is ‘n gasvrye gemeenskap en ‘n stukkie melktert en ‘n koppie koffie is wat ons gaste kan verwag. As sy tyd het, kan ons haar nog ‘n bietjie jukskei ook leer.”

“Ons is verstom daaroor dat die DA, wat hulleself aanbied as ‘n liberale party wat die Grondwet wil beskerm, selektief is oor die Grondwet. Ons tree op kragtens die sleutelbepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet, wat territoriale en kulturele selfbeskikking reël soos onder andere artikel 235, 185 en 186,” het hy gesê.

“Indien jy glo in die Grondwet, moet jy individue en gemeenskappe, soos Kleinfontein, die ruimte gun om kragtens die Grondwet op te tree. Jy kan verskil daarvan, maar jy kan nie so onverdraagsaam wees dat jy optogte teen ander, wat binne die Grondwet optree, hou nie. Ons moet ‘n kultuur van verdraagsaamheid in Suid-Afrika skep.”

“Die DA kan nie aan die eenkant sê hulle glo in verskeidenheid en aan die ander kant betoog hulle teen ‘n gemeenskap wat ‘n spesifieke kultuur in beskerming neem nie. Dit is juis omdat ons glo in verskeidenheid dat daar ‘n gemeenskap soos Kleinfontein is. Ons glo dat daar baie ander ‘Kleinfonteine’ van ander gemeenskappe ook moet wees. Ons onderneem om nie teen hulle optogte te hou nie, maar om hulle ook te nooi vir koffie en melktert.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Ek wil net graag weet waarom daar niks gese word van die “trust” gebiede in KZN en tussen Polokwane en Burgersfort waar net swart mense bly……..? Geen blanke kan in hierdie areas bly nie want dit is bar, geen openbare dienste ens ens nie. Is dit dan reg? Wanneer ons mense hulle eie gesonde gebied bewerkstellig word hulle rassiste genoem. Miskien moet die regering die hand aan eie boesem steek maar hulle intelligensiewydte is dalk nie breed genoeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.