Kleuter dood ná eksperimentele operasie

Hannah haal ‘n maand nadat sy die lugpyp ontvang het op haar eie asem

Hannah Warren (2) is minder as drie maande, nadat sy ʼn sintetiese lugpyp ontvang het wat van haar eie stamselle gemaak is, oorlede.

Warren is Saterdag in die kinderhospitaal in Illinois, Amerika, oorlede. Sy is die jongste persoon wat nog ooit ʼn eksperimentele lugpyp-prosedure ondergaan het en die eerste persoon in Amerika wat die operasie ondergaan het, berig CNN. Sy sou in Augustus haar derde verjaarsdag gevier het.

Warren is sonder ʼn tragea gebore, ʼn toestand wat in 99% van gevalle tot die persoon se dood lei. Sy het tot en met die oorplanting haar hele lewe lank in die hospitaal se intensiewesorg-eenheid deurgebring.

Dr. Paolo Macchiarini het die operasie op 9 April in Swede uitgevoer. Die lugpyp is geskep deur stamselle van haar beenmurg en plastiekvesel wat in ʼn buis gevorm is.

“Die nuwe tragea het suksesvol gewerk ná die operasie, maar haar longe het ingegee,” het haar gesin gesê.

Macchiarini het al ses van dié oorplantings wêreldwyd uitgevoer. Dit gaan goed met vier van die pasiënte. Christopher Lyles, ʼn kankerpasiënt van Baltimore, is vier maande nadat hy die sintetiese tragea ontvang het, oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.