Kleuter sterf ná sy giftige ‘suiker’ eet

Jordin Lewis, ʼn driejarige kleuter van Kaapstad, is dood en sewe kinders moes in die hospitaal behandel word nadat hulle ʼn chemiese middel, wat soos suiker lyk, geëet het. Die chemiese middel is onwettig in ʼn oop veld in Delft gestort, waar die kinders daarop afgekom het.

Die Cape Times het Dinsdag berig die groep kinders het Sondag op die middel afgekom toe hulle in die veld gespeel het. Lewis is saam die ander kinders na die hospitaal geneem nadat hulle erge maagkrampe gekry het.  Haar longe en niere het platgeval, haar brein is ook aangetas. Sy is in die hospitaal dood.

Die ander sewe kinders, tussen die ouderdom van vyf en 15, is Maandagaand uit die hospitaal ontslaan. Intussen het die hospitaal Maandag nog 13 kinders opgeneem wat dieselfde simptome getoon het nadat hulle glo ook met die middel in aanraking gekom het.

Theo Lane, ʼn woordvoerder van die stad se nooddienste, sê drie beamptes, wat die middel verwyder het, moes ook in die hospitaal behandel word.

“Die middel is baie gevaarlik en bevat natriumchloraat, natriumnitraat en natriumfosfaat. Dit lyk amper soos suiker en word veral in die kosmetiese bedryf gebruik,” het Lane gesê.

Dertig 25kg-sakke met dié middel is in die veld gevind. Nog sakke is in ʼn ander gebied gevind. Die stad Kaapstad is besig met ʼn ondersoek om te bepaal wie die middel daar gestort het.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.