Kleuter verdwyn in sinkgat

Die sinkgat waarin die seuntjie en sy ma geval het.

ʼn Kleuter in Bryansk in westelike Rusland is dood nadat hy in ʼn gat geval het toe hy en sy ma vir ʼn wandeling gegaan het, het BBC Maandag berig.

Die plaveisel het glo meegegee weens ʼn warmwaterpyp wat gebars het, het beamptes gesê. Die 26-jarige Tatyana Didenko (die seuntjie se ma), is deur haar eggenoot, wat ʼn metropolisiebeampte is, uit die gat gered. Die man kon egter nie sy seuntjie wat uit sy stootwaentjie in die rioolgat geval het, red nie. “Die vrou kon aan die rant van die plaveisel vasgryp wat haar lewe gered het,” het ʼn Bryansk-beampte glo gesê. Haar eggenoot was Sondagmiddag daar naby aan diens en het homself na die toneel gehaas, en met ʼn tou in die gat afgeklim om sy vrou te help. Didenko is daarna na die hospitaal geneem. Alhoewel oorblyfsels van die 1½-jarige se kleertjies deur soekspanne opgespoor is, het hulle laat Maandagmiddag eers sy liggaam opgespoor. Die rede vir die ineenstorting is nog onduidelik, maar ʼn ondersoek is reeds van stapel gestuur. Navorsers sal veral fokus op moontlike konstruksieprobleme by ʼn plaaslike rioolaanleg. Nikolai Denin, Bryansk se streeksgoewerneur het aan Russia24-TV gesê dat die onlangse weer moontlik daartoe kon lei dat die pyp gebars het en dat sand onder die plaveisel as ʼn gevolg moontlik weggespoel het. Die polisie het ʼn saak van kriminele manslag geopen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.