Kloue uit oor konsentrasiekampbegraafplaas

AfriForum sê eersdaags die Masilonyana munisipaliteit die stryd in die hof aan weens die munisipaliteit se gebrek om sy pligte na te kom wat sal verseker dat die konsentrasiekampbegraafplaas van Winburg na behore bewaar word.  AfriForum het in Julie 2012 ʼn aansoek teen die munisipaliteit gebring weens hul swak bestuur van die omgewing om hierdie belangrike erfenisterrein.  Die munisipaliteit het pas aangedui dat dit die aansoek gaan opponeer.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en kultuurhistorikus, is die probleme by die begraafplaas onder meer deur die Erfenisstigting en lede van AfriForum se Winburg-tak onder AfriForum se aandag gebring.  Daar is hoofsaaklik drie kwessies wat die toeganklikheid, toestand en toekoms van die terrein ingrypend raak:

  • Die dorp se gebrek aan ʼn rommelbeheerbeleid, soos wetlik voorgeskryf word, het tot gevolg dat rommel om en op die terrein gestort word.  Nie net word die grafte van vroue- en kinderslagoffers van die Anglo-Boereoorlog, asook enkele Britte, deurgaans deur bourommel, huisafval en selfs dooie diere bedek nie, maar word ʼn gesondheidsgevaar ook vir woongebiede in die omgewing geskep.
  • Die pad na die terrein is haas onbegaanbaar.  Die terrein is van groot kultuurhistoriese belang, maar toeriste en historici kan dit tans net met groot moeite en gevaar bereik.  In die reënseisoen word die probleem nog erger.
  • Onwettige gruisgrawery direk langs die terrein skep ʼn ernstige erosiegevaar.  Van die grafte toon reeds skade wat die Erfenisstigting deurgaans probeer herstel, maar terwyl die grawery voortduur, gaan die probleem voortduur.

Die munisipaliteit het voor AfriForum se aansoek verskeie versoeke van die Erfenisstigting en selfs direktiewe van die Vrystaatse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake geïgnoreer en al bogenoemde probleme toegelaat om te vererger.  Die situasie is ook gekompliseer deur die feit dat die munisipaliteit in dié tyd verskillende munisipale bestuurders gehad het.  Onder die omstandighede is regsaksie die laaste uitweg om te verseker dat ʼn terrein wat van besondere kultuurhistoriese betekenis vir Suid-Afrika en Brittanje is, nie verlore gaan nie.

“Landswyd word al minder deur plaaslike, provinsiale en nasionale owerhede gedoen om bestaande erfenisterreine te bewaar.  Ons hoop die saak kan ʼn toetssaak word wat ander owerhede kan herinner aan hulle wetlike plig om ons land se erfenis te bewaar,” het Bailey gesê.  Daar word nou op ʼn hofdatum gewag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rudie Thirion ·

Dis reg om die munisipaliteit op wetlike manier te dwing om hul wetlike plig na te kom. Ek sou egter ook graag wou weet wat het die Afrikanergemeenskap van Winburg en omgewing gedoen om die terrein te bewaar? Ek vra die vraag omdat ek nie weet nie en die berig dit nie uitdruklik noem nie. Daar is net ‘n sinnetjie wat noem dat die Erfenisstigting probeer om deurgaans skade te herstel. Is dit weer ‘n geval van Afrikaners wat net sit en kla en kritiseer maar niks uit eie beweging doen nie? Is daar Voortrekkers, Rapportryers, ‘n ATKV tak ens.? Wat het die AfriForum tak meer gedoen behalwe om die probleem onder AfriForum se aandag te bring? Ons geskiedenis, taal, kultuur, geskiedenis ens. is ons verantwoordelikheid. Ons kan nie bekostig om net die een te doen (kla en hof) en die ander (self hand uit die mou steek) na te laat nie.

Paul ·

Ek is nie presies op hoogte van wie almal al wat gedoen het daar nie, maar ek weet dat daar al skoonmaak-aksies gedoen is.

Dis egter moeilik, want die onwettige vullishoop op die aangrensende terrein veroorsaak probleme deurdat plastieksakke en goed op die terrein waai. Die uitgrawe van die gruis aan die ander kant is ook nie iets wat mense self kan keer nie, want dis nie hulle grond nie.

Rudie ·

Dit is voorwaar n probleem landwyd. Ek stem saam dat die Afrikaner se erfenisterreine en -skatte ons eie verantwoordelikheid is. Dit is egter vreeslik moeilik om sulke terreine in stand te hou met beperkte fondse terwyl die regering toelaat dat daar voortgegaan word met rommelstorting, grafskending, algemene skending en die gawe van gate om die grafte. n Land se peil van beskawing word gemeet aan die respek wat die samelewing toon aan kerke en historiese plekke. Wat sal julle se is Suid Afrika se beskawingspeil?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.