Koebaai Super15, hallo Curriebeker!

Suid-Afrika se pyn en verspeelde kanse in die Super 15 is nou al vergete soos wat die 124-jarige Curriebeker hierdie naweek volwaardige momentum met die aanvang van die premierafdeling kry.

Die eerste divisie het reeds afgeskop en die Vodacombeker-finaliste, die Pumas, blyk vroeë gunstelinge te wees om koning te kraai en volgende jaar te promoveer na die premier-divisie. Daar is ’n hele paar liplekker-wedstryde wat wag.

Maar kom ons draai eerstens na die Super15-eindstryd wat laas naweek gespeel is. Die Chiefs is welverdiende kampioene nadat hulle die Brumbies in Hamilton met 27-22 geklop het. Die Waikato-brigade het hul naam gestand te doen deur die hoofmanne van die Nieu-Seelandse en algehele puntelere te wees en dus vir hulself ’n halfeindstryd en eindstryd by die huis te verseker. Dit help altyd. Daarenteen moes die Brumbies vanaf Canberra, waar hulle die Cheetahs net-net kon klop, na Pretoria reis om die Bulls aan te durf en die Pretorianers met ’n laat drie te klop. Hulle moes dus teen ’n span te staan kom wat die Crusaders kon uitstof en met selfvertroue op hul eie veld speel.

Hoewel die Brumbies die eerste helfte gedomineer het – net soos wat hulle teen die Bulls gedoen het – het die vlugflouheid en twee fisiese wedstryde teen Suid-Afrikaanse spanne sy tol begin eis in die tweede helfte. Die Chiefs se suinige verdediging het boonop die Brumbies tot een onderskepdrie deur Chirstian Leali’ifano, wat al sy span se punte aangeteken het, beperk. Die Chiefs het twee drieë in die tweede helfte gedruk en die eerste een, deur die agtsteman Liam Messam, het duidelik die wedstryd in die guns van die tuisspan geswaai selfs al was hulle steeds agter op die telbord. Die senter Robbie Robinson het die skrif in dik letters aan die muur geskryf met sy fenomenale drie toe hy die Brumbies se verdediging aan skerwe gehad het. Die Chiefs se tweede Super15-titel in ’n ry stuur ’n sterk boodskap aan ander spanne, veral SA spanne, oor wat presies wenrugby behels. Dit is per definisie totale rugby met heelwat waagmoed daarby. Die Chiefs het die meeste foute op pad na hul tweede titel gemaak, maar ook die meeste drieë gedruk. Hulle het Saterdag gewys dat verdediging eweneens belangrik is vir ’n wenspan, maar dat dit alleenlik nie titels verseker nie. Hulle het ook gewys dat ’n generaal en skerpskutter op losskakel, in hulle geval vergestalt deur Aaron Cruden, van allergrootste belang is. Daarbenewens heers daar ongetwyfeld ’n fantastiese spangees by die Chiefs en al het hulle, soos die Cheetahs, nie die meeste spelers in die nasionale span nie, speel hulle vir mekaar.

Maar kom ons kyk na die Curriebeker. Met die Springbokke uit, is hierdie deel van die toernooi altyd effe tentatief met interessante jong talent wat hand opsteek in die afwesigheid van die groot kanonne. Die eerste stryd vind vanaand plaas met die Sharks en die Griekwas wat mekaar in Durban pak. Albei hierdie spanne sal hul veldtogte met ’n wen wil begin en daarom kan die rugbypubliek ’n riller verwag. Die Griekwas sal stellig nie van hul opwindende hardlooprugby wil afwyk nie en Ryno Barnes se manne is altyd gevaarlik en kan die knuppel in die Sharks se tenk gooi. Die Durbaniete sal hul Super15-probleme agter hulle wil sit en nuwe lewe in die unie blaas deur op hul tuisveld te wen. John Smit is nou aan die stuur en hy het geen doekies omgedraai oor die feit dat slegs ’n Curriebeker-titel goed genoeg sal wees nie. Die Sharks het darem steeds ’n paar ervare hande om die skip na die verwesenliking van hierdie doelwit te stuur. Keegan Daniel, Lwazi Mvovo, Louis Ludik, Odwa Ndungane, Jean Deysel, Francois Steyn en Charl McLeod is almal in hierdie jaar se Curriebeker-span en sal belangrike leiding vir die jonger spelers gee.

Die ander twee spanne wat sterk aanspraakmakers op vanjaar se titel is, die Leeus en Cheetahs, sê mekaar môre die stryd aan. Hierdie spanne het ook die voordeel dat hulle nie te veel spelers weens Bok-verpligtinge verloor het nie. Hulle het ook beide onlangs goeie momentum opgebou danksy onderskeidelik die Leeus se suksesvolle poging om hertoelating tot die Super15 te kry en die Cheetahs se eerste uitspeelplek in die Super15. Hulle ken dus van druk en die noodsaaklikheid van elke wen. Die Leeus het egter meer om te bewys omdat hulle nog nie hierdie jaar in ’n groot toernooi gespeel het nie. Hulle sal ook weer hul Super15-plek moet regverdig met ’n geslaagde Curriebeker-kampanje. Die Gautengers sal beslis hul sterk skrum en vernuftigheid by die afbreekpunte deur middel van onder meer hul ervare kaptein, Derick Minnie, wil gebruik om die Cheetahs, wat sonder Heinrich Brüssow sal moet klaarkom, uit te oorlê. Beide spanne sal sonder staatmakers moet skrum. JC Janse van Rensburg is weg by die Leeus en Adriaan Strauss en Coenie Oosthuizen is opgeroep vir die Bok-span. Die Cheetahs sal dus swaar op meer ervare spelers soos Lood de Jager en Philip van der Walt, sowel as hul kaptein, Boom Prinsloo, steun om die oorhand voorlangs te kry. Maar dit is agterlangs waar die aksie gaan wees. Albei spanne speel ’n meer entrepreneuriese soort spel en daarom kan ons onsself gereed maak vir baie hardlooprugby. Vir die Leeus is die gevaarmanne Stokkies Hanekom, die heelagter Chrysander Botha, Deon Helberg en natuurlik ook die drieëvraat Anthony Volmink. Die Cheetahs spog met baie van hul Super15-sterre soos Johann Sadie, Raymond Rhule, Robert Ebersohn en die immeronvoorspelbare veteraan Sarel Pretorius. Hierdie wedstryd kry beslis my stem as die potensieel vermaaklikste wedstryd van die naweek.

Die laaste wedstryd in die premierliga is die Blou Bulle teen die Westelike Provinsie. Beide hierdie spanne is aansienlik verdun weens die weglating van hul Springbokke, maar die Bulle is sonder twyfel die hardste getref. Hulle het ná die Super15 agt senior spelers verloor te wyte aan die aanloklikheid van oorsese kontrakte. Daarbenewens is hulle spelers soos die Bok-senters Jan Serfontein en JJ Engelbrecht en die werkesel Flip van die Merwe kwyt en Pierre Spies is beseer. Die eerste Engelssprekende ooit om ’n Bul-span in die Curriebeker te lei, Jono Ross, is egter vol vertroue dat sy jong span die uitdagings te bowe sal kom. Een besliste sterkpunt van die Pretorianers is hul vaste vyf, wat ’n interessante mengsel van jeug en ervaring is. Die jong loskopstut Morné Mellet het gewys hoe behendig hy kan skrum, die veteraan Willie Wepener sal op haker diens doen en Frik Kirsten rond hierdie gedugte voorry af. Die groentjie slot, Paul Willemse, wat eintlik nog min speelkans gekry het vandat hy aan die begin van die Super15 by die Pretoria-franchise aangesluit het, is nou aan die diep kant ingegooi saam met Grant Hattingh, wat reeds sy staal in die Super15 gewys het.

Die WP blyk egter die sterker span te wees, altans op papier. Sy agterlyn sluit ’n hele paar jong en ouer sterre in soos Gerhard van den Heever, Gio Aplon en Damien de Allande. Hul grootste vonds is egter die jong buksie sewesster, Cheslin Kolbie, wat hierdie jaar die Jong Bokkies se groot aanwins in Frankryk was en op linkervleuel gaan uitdraf. Sy vermoë om gapings in die verdediging uit te soek asook sy skopvoet maak van hom ’n bykans ongeëwenaarde aanvalswapen. Die Bulle sal hom dus geen ruimte wil gun nie. Die WP se pak is ook baie meer ervare en oënskynlik vaardig as dié van die Bulle met spelers soos Rynhardt Elstadt, Nizaam Carr, die kaptein Deon Fourie, Brok Harris en Steven Kitshoff wat almal gaan speel.

Kry van volgende week af al die beste rugbynuus verniet hier op Maroela se nuwe rugbyblad, Pale Toe. Geniet die rugby!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.