Koerante moet Oscar om verskoning vra

Oscar Pistorius

Die Persombudsman het Rapport en die se susterskoerant, City Press, beveel om ʼn verskoning te publiseer nadat daar bevind is dat hulle Oscar Pistorius onnodig leed aangedoen het.

Die twee koerante is ook beveel om regstellings te maak aan ʼn artikel wat hulle op 30 Junie publiseer het waarin daar beweer is dat Pistorius saam ʼn vrou by ʼn motorhandelaar gesien is waar hy ʼn Audi R8 wou koop. Daar was ook berig dat Pistorius deur lyfwagte vergesel is en dat die vrou saam hom moontlik sy meisie was. Die artikel het op City Press se voorblad, bladsy drie in Rapport en op Rapport se webtuiste verskyn. Pistorius staan tans tereg op aanklag van moord nadat hy sy vriendin, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie vanjaar doodgeskiet het. Johan Retief, die Ombudsman, sê daar is twee verskillende uitsprake aangesien City Press se artikel verskil het van Rapport se artikel. Retief het bevind dat die onsekerheid oor die model van die motor wat Pistorius glo gekoop het nie langer in die opskrif gereflekteer was nie. In die inleidingsparagraaf van die City Press se artikel is dit as ʼn onbetwisbare feit gestel. Daar was ook ander feitelike foute in die berigte. Die joernalis van Rapport wat die artikel geskryf het, het ʼn anonieme bron aangehaal wat glo by die handelaar was toe Pistorius daar was. Hy het nog twee anonieme bronne aangehaal wat beweer het dat hulle “bande het aan die handelaar” nadat die bestuur van die handelaar nie wou kommentaar lewer nie. Die joernalis het met Annelise Burgess, Pistorius se woordvoerder, gepraat voor die artikel gepubliseer is. Die koerant het berig dat Burgess aanvanklik gesê het dat Pistorius na die handelaar is om die R8 vir sy oom te koop. Burgess het egter later ʼn geskrewe kommentaar aan die joernalis gestuur waarin sy gesê het dat Pistorius by die handelaar was om vir homself ʼn tweedehandse motor te koop. Die joernalis het Burgess gevra om meer duidelikheid te verskaf oor die twee verskillende weergawes waarna sy hom gebel en verduidelik het dat sy Pistorius se oom, Arnold, verkeerd verstaan het. Arnold het glo aan haar gesê dat Pistorius hom net bystaan met die papierwerk vir die R8 wat hy wou koop.

Pistorius het die handelaar glo twee keer besoek, een keer om vir hom ʼn tweedehandse motor te koop en die ander keer om sy oom by te staan. Retief het bevind dat Pistorius vir hom ‘n gebruikte motor gekoop het wat nie so vinnig soos ʼn R8 is nie en dat die vrou wat saam met Pistorius by die handelaar was sy niggie is. Die man wat volgens die artikel Pistorius se lyfwag was, was egter sy broer Carl. Retief het bevind dat die koerante ʼn opskrif en foto gebruik het wat onregverdig was teenoor Pistorius. Die opskrif het gelees: “Oscar vat mooi jong vrou om sy R1,5m Audi R8 te sien.” Die koerante het ook ʼn foto gebruik van ʼn nuwe Audi R8 met ʼn foto van Pistorius bo oor dit. Retief het Pistorius, sy familie en Burgess se bewerings dat die koerante nie daarin geslaag het om die inligting te bevestig nie, verwerp. Retief het bevind dat die koerante geregverdig was om die bewerings te publiseer aangesien dit die inligting was wat hulle ten tyde van publikasie tot hul beskikking gehad het. “Die artikel was misleidend maar nie met opset nie,” het Retief gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Erich Goosen ·

Dis goed dat die media so af en toe in die bek geruk word. Daar is te veel berigte wat suiwer om sensasionele redes geplaas word sonder dat die korrektheid daarvan behhorlik nagegaan word.

Johann ·

My voorstel is ‘n swaarder straf as net ‘n verskoning teen hierdie sensasiesoekers want dit wil voorkom of hulle hom in ‘n meer slegte lig wil plaas. Hy is en bly onskuldig totdat die Agbare Hof hom skuldig bevind.

Seg Net ·

Sal geen verskil maak nie. Moord bly moord en dit is wat hy gepleeg het.

Nico ·

Die onus rus op die koerant om berigte te verifeer voordat hulle dit plaas. Om ‘n misleidende berig te plaas is nalatig. Dit is ‘n blatante leun om dan agterna te beweer dit is nie met opset nie.

christine naude ·

Dit is goed as hulle bietjie in die bek geruk word…hul doen enige ding om koerant te verkoop, maak nie saak hoeveel lewens hulle ongelukkiig maak nie

Rika Kotze ·

Ek is so bly die media word bietjie vasgevat. Wat maak dit saak as Oscar vir hom n ander kar koop, dit raak ons nie. Ek daag hulle uit om iets positiefs van Oscar te publiseer.

Peter Vonk ·

Die oordeel kom ons nie toe nie,maar die waarheid seevier.Reg en geregtigheid is die waarheid.

InaT ·

dit is glad nie lekker as jy jou storie in die koerant lees met foute in nie. Na my seuntjie se dood was daar ‘n artikel in die Burger gewees met 4 foute in. Die opskrif se fout laat my nou nog ril! Ek wag nou nog vir my verskoning, maar sal dit seker nooit kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.