Kokaïen per abuis by VN afgelewer

Sestien kilogram kokaïen is verlede week in die poskamer by die Verenigde Nasies (VN) se hoofkantoor in New York opgespoor.

VN-werknemers het die verbode middels in twee possakke opgespoor wat hulle deursoek het omdat die verkeerde VN-logo daarop gedruk was, het die VN Donderdag, 10 dae ná die kokaïen ontdek is, gesê. Die sakke is van Mexico af gestuur en het geen naam of adres op gehad nie. Die afsenders het moontlik gehoop dat die verbode middels as diplomatieke pos aangesien sal word en dan nie deursoek sal word nie. Wat hulle egter nie op gereken het nie, is dat die sakke by die VN self afgelewer sou word, het die owerhede gesê. Die sakke het 14 uitgeholde boeke bevat. Elke boek het meer as een kilogram kokaïen bevat. Martin Nesirky, woordvoerder vir die VN het gesê die vonds “hou geen verband met die VN nie”. Die sakke is by die VN hoofkantoor opgespoor, maar is blykbaar van ʼn ander VN-kantoor versend. Gevolglik sal die polisie van New York en nie VN se sekerheidspersoneel nie, die saak ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.