Kokaïentee vrylik in SA beskikbaar

Foto: www.beeld.com

Die medisynebeheerraad ondersoek ‘n energietee wat glo hoë vlakke van kokaïen bevat.

Coca Tea bevat glo soveel kokaïen dat gebruikers dwelmtoetse sou druip, het Beeld Maandag berig. Dié tee kan in winkels en apteke soos Spar en Dis-Chem gekoop word, en word as ‘n kruietee bemark. Die raad het teen Maandagmiddag nog nie op ‘n e-pos reageer nie, berig IOL.

Luidens die berig in Beeld word Coca Tea as ‘n “hemelse towerplant van die Inkas” beskryf. Twee van die dagblad se verslaggewers het ingestem om elk ‘n koppie van die tee te drink en dan hul urine te laat toets. Binne vier uur was die verslaggewers se besoïelekgonienvlak ná een koppie tee onderskeidelik 1 685 ng/ml en 1 831 ng/ml. Die afsnypunt is 300 ng/ml vir voorlopige toetse en 150 ng/ml vir bevestiging in ‘n laboratorium.

Twaalf uur ná die koppie tee was hul bensoïelekgonienvlak glo steeds hoog genoeg dat hulle die risiko sou loop om in hegtenis geneem te word weens kokaïengebruik en afgedank sou kon word.

Die tee kan gebruikers glo nie “hoog” maak soos wanneer kokaïen gesnuif word nie, dit werk eerder soos ‘n stimulant soos kafeïen in koffie.

Die Spar-winkelgroep het gesê hy het sy winkels versoek om die tee van hul rakke te verwyder. Stan Goetsch, woordvoerder van Dis-Chem, sê kokatee word in baie lande om gesondheidsredes gedrink en is nie gevaarlik wanneer dit gedrink word nie. Dis-Chem gaan dus tans nie die produk van sy rakke verwyder nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

Hierdie storie is ‘n storm in ‘n teekoppie.

Papawersaad (poppy seeds) kan ‘n mens ook laat positief toets vir opiate soos heroïen of opium. Selfs as jy net een sny saadbrood eet wat papawersaad op het. In die VSA mag gevangenes glad nie papawersaad eet nie, om seker te maak hul dwelmtoetse toon nie vals positiewes nie.

Piet le Roux ·

As daardie papawersade vals positiewes oplewer, saai dit dan twyfel?

Piet le Roux ·

Nee, sekerlik nie. Dink maar aan Lucy met haar diamante in die hemelruim.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.