“Kolonel verder geviktimiseer voor aanvang van omstrede misdaadintelligensie-saak” – Solidariteit

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Die vakbond Solidariteit het vandag sy misnoeë uitgespreek oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se ondersoek na kol. Kobus Roos, enkele dae voordat sy saak deur die arbeidshof in Johannesburg aangehoor sal word. Roos word tans ondersoek vir bewerings dat hy vertroulike inligting laat uitlek het. Solidariteit pak die SAPD Maandag in die arbeidshof in ʼn onbillike-arbeidspraktyksaak namens Roos, wat al jare lank vergeefs probeer om korrupsie binne die SAPD aan die kaak te stel. Dit het daartoe gelei dat Roos geteister, geviktimiseer en geskuif is na ’n pos waar hy ledig is.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, voer aan dat die SAPD se stap om Roos nou, enkele dae voor die aanvang van die hofsaak, te begin ondersoek niks anders is as boelietaktiek nie. “Die SAPD se ondersoek teen Roos is ooglopend daarop gemik om Roos verder te viktimiseer voordat die saak ’n aanvang neem. Dit is betekenisvol dat Roos juis nou ondersoek word, terwyl die media reeds gedurende Julie 2013 berig het dat hulle in besit is van die lêer wat geheime verslae en amptelike dokumente bevat rakende die plundering van ʼn geheime polisiefonds sowel as inligting omtrent Roos se dringende pogings om die plundering by sy base aan te meld,” sê Kruger. Volgens Kruger is die inligting wat Roos kwansuis sou laat uitlek het, vryelik op die internet beskikbaar en het hy geen aandeel daarin dat die inligting daar beland het nie.

Die skokbewerings wat in die lêer gemaak word, sluit onder meer in dat agente wat bevriend was met hoëvlakpolisielede glo meer as R8 miljoen in eise en belonings betaal is; dat vals eise ingedien is; en dat nagenoeg 250 poste deur toppolisielede se vriende en familielede gevul is. Roos gaan Maandag wanneer die saak hervat onder meer getuig oor die ondersoeke waarby hy betrokke was en die korrupsie wat hy daardeur blootgelê het. ’n Voormalige lid van die destydse Skerpioene; twee lede van die Valke en verskeie SAPD-lede is gedagvaar om in die omstrede saak te getuig.

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van misdaadintelligensie. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans geskrap. Roos is deur lt.genl. Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, na dié afdeling geskuif nadat hy in ʼn beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in misdaadintelligensie blootgelê het. Roos het voorheen as hoof in die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits op die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Mdluli het Roos onder meer aangestel om dié rekening te ondersoek, die ondersoek later weer stopgesit en Roos verskuif na die pos waarin hy tans is.

Solidariteit versoek dat Roos heraangestel word in sy vorige posisie in die interne-ouditafdeling aangesien die pos waarin hy tans is feitlik geen werk bied om te doen nie en hy aan ondraaglike werksomstandighede onderwerp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eugenie ·

My hart gaan uit na hierdie man wat duidelik dit ten doel het om die bedrogspul hok te slaan, a nee a, en waarom dra hy na 26 jaar in die mag slegs die kolonel-rang?

Sterkte Kolonel Roos, ek hoop van harte alles loop voorspoedig vir jou van nou af en indien dit jou hartsbegeerte is om terug te gaan na jou eertydse pos, laat dit so wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.