Kolwe gaan tussen kerke klap

krieketDie winde van verandering waai deur die Vatikaan met die nuwe pous, en nou het die Vatikaan ‘n eie krieketspan in die beenskutte gekry – en sommer die Anglikaanse Kerk uitgedaag.

Dié wedstryd gaan blykbaar op Lords gespeel word, wat soort van nuwe betekenis gee aan die beskrywing van Lords as Krieketheiligdom.

Die klub heet die Heilige Petrus se krieketklub, en sommer gou nadat die nuus bekend geword het, het die draakstekery begin. As daar nou twyfel is oor ‘n BVP-beslissing, word dit na ‘n TV-skeidsregter verwys of dalk nog ʼn hoër en onberispelik suiwer gesag?

En hoe gaan die monsignors se krieketdrag daaruit sien? Gaan die veldwerkers die rooi balletjie met flappende gewade agternasit?

En gaan die boulwerk so suiwer soos die prediking wees?

En gaan die kolwer-priesters so ‘n skerp ogie op die bal gehou kry soos op die sonde?

Die priester wat die meeste lidmate met ‘n sondetjie uitgevang het, gaan glo die handskoene aantrek om as paaltjiewagter diens te doen.

En die waardige Engelse toeskouers gaan dalk net aan hul komkommertoebroodjies verstik as ‘n eerwaarde-veldwerker die bal op die grens misvang, en ‘n onwelkome woordjie uitglip.

Die Vatikaan is ‘n onafhanklike landjie, en tegnies verteenwoordig die klub nou ook sommer die land, maar krieketskrywers is dit min of meer eens dat dit ‘n ruk sal duur voordat die Vatikaan die wêreld se grotes, soos die Proteas, die Aussies en die Engelse sal kan aandurf. Maar die Vatikaan het darem ‘n “geheime” wapen – die teenstanders sal nou hul minder ordentlike woordeskat só moet aanwend dat dit nie net die skeidsregters is wat nie moet hoor nie. Krieket ken nie die geelkaart nie, maar die Vatikaanmanne het glo heelwat kontakte om te sorg dat ‘n vuilbek bykomende tyd in die vagevuur deurbring.

En o ja, die Vatikaan wil ook dat die vroue meedoen…

Dan moet die woorde éérs getel word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.