Komitee lê klagte oor prosteses

Oscar Pistorius wens Alan Oliveira geluk na afloop van die wedloop. Foto: @sabrinaferri op Twitter

Die Suid-Afrikaanse Paralimpiese Komitee (SAPK) het Woensdag ‘n formele klag by die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK) ingedien oor of Oscar Pistorius se mededingers se lengte van hul prosteses hulle kon bevoordeel het.

Dit het opnuut die geskil laat opvlam oor of Pistorius se teenstanders die reëls oortree het deur tydens die kompetisie hul hardlooplemme om te ruil, berig RSG

Oscar het Sondagaand tweede gekom in die 200m-finaal nadat Alan Fonteles Cardoso Oliveira van Brasilië hom geklop het. Hy het kort na die resies gesê dat hy vir die eerste keer in nege jaar in die 200m geklop is.

“Ek het nog nooit iemand gesien wat van agt meter van die 100m merk voor my die wenstreep oorsteek nie,” het Pistorius gesê. Pistorius was ver voor toe Oliveira hom skielik ingehaal het en die wenstreep eerste oorgesteek het. Pistorius het vroeër en na afloop van die resies sy kommer uitgespreek oor die langer prosteses wat deur Oliveira en ander atlete gebruik word maar het gesê daar is niks wat hy daaraan kan doen nie aangesien dit deur die IPK toegelaat word.

“Natuurlik is ek ontsteld, ek het nog nooit ʼn 200m-resies in my lewe verloor nie. Daar was nog nooit ʼn ander Paralimpiese atleet om die resies in 21 sekondes te hardloop nie, wat nog te sê 21,4. Ons weet nou al vir sowat ʼn maand van die langer prosteses en ek het dit met die IPK bespreek maar daar is niks daaroor gedoen nie,” het hy gesê.

Die SAPK het egter besluit om de kwessie weer aan te roer, hoewel Pistorius reeds omverskoning gevra het vir die tydsberekening van sy opmerkings. Hy het ook gesê dat hy nie Oliveira se kollig wou steel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.