Kommandokorps ontken rassisme by kampe

Die Kommandokorps Republikeine het Maandag ontken dat sy Kadetkampe rassehaat aanwakker.

Die Kommandokorps het reageer op Vrydag se berig in die Mail & Guardian en Sondag se berig in Rapport waar daar geskryf is dat die kampe seuns so jonk as 13 jaar tot rassehaat aanspoor en dat hulle geleer word dat swart mense die “vyand” is. Daar is ook berig dat die Menseregtekommissie (MRK) nou die saak ondersoek. Die Kommandokorps sê in ʼn verklaring dit is betreurenswaardig dat die DA die organisasie by die MRK aangekla het. “Alle opleiding wat die Kommandokorps gee is met die polisie en die weermag uitgeklaar. Geen uitsprake van haatspraak is ooit gemaak nie. Kadette word net geleer om hul eie, taal, kultuur, tradisies, godsdiens en ras lief te hê. Dit is binne die grondwet.” Die Kommandokorps het die DA ook daarvan beskuldig dat hy “selde, indien ooit plaasmoorde in die openbaar veroordeel” en dat dit blyk dat die DA “politieke punte wil wen onder swart kiesers.”

Die Kommandokorps het ook uitgevaar teen die burgerregte organisasie, AfriForum, nadat hulle die naweek ʼn verklaring uitgereik het waarin die uitvoerende hoof van die organisasie, Kallie Kriel, gesê het “dit is immoreel en onverskoonbaar dat kinders mishandel en blootgestel word aan die verdraaide rassistiese denkraamwerk van ’n klein groepie randfigure.” Die Kommandokorps sê: “Geen vergrype en mishandeling op hierdie kampe plaasvind, soos wat Mnr. Kriel beweer nie. Die opleiding is op standaard met alle Infanterie opleiding regoor die hele wêreld. Dit blyk dat mnr. Kallie Kriel van Afriforum nie onderwerp was aan militêre opleiding nie. Afriforum doen goeie werk om oortreders soos Malema en andere voor die hof te daag, maar was selde indien ooit aktief by die voorkoming van plaasmoorde/-aanvalle. Afriforum moet hom bepaal by SY werk en die Kommandokorps sal hom bepaal by SY werk.”

Die Kommandokorps sê hy sal in lig van die bogenoemde dringend aan die regering vra: “Wat is die doel van die opleiding van 8,000 lede van die ANC Jeugliga? Waarmee word hul opgelei en wat word hul geleer?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemsbok ·

Die Kommandokorps sal nog leer waarom die pen magtiger as die swaard is.

Ook dat dit ietwat moeilik is om iets te ontken wat op video vasgevang is.

Net jammer dat sy optrede alle Afrikaners benadeel, maar nou ja, om te veralgemeen en te veroordeel is seker eienskappe wat ons van ons Nederlandse voorvaders ge-erf het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.