Kommentaar op die misdaadstatistieke wat die SAPD op 8 September 2011 vrygestel het

Prof Rudolph Zinn.

Prof Rudolph Zinn, Senior dosent, Departement Polisiepraktyk, Unisa.

Dit is seker te wagte dat die polisie en politici op al die positiewe aspekte van die vrygestelde misdaadstatistieke sal fokus. Daar is immers rede tot optimisme naamlik dat daar ‘n afname in die meerderheid van misdaadtipes ondervind word asook ‘n afname in die totale aantal misdade wat oor die verloop van die finansiële boekjaar (1 April 2010 tot 31 Maart 2011) aan die polisie gerapporteer is. Die polisie rapporteer jaarliks in hul misdaadstatistieke oor die stand van sake van die “ernstige misdade’ in Suid-Afrika wat uit 20 misdaadtipes bestaan. Die minder ernstige misdade byvoorbeeld betreding word nie by die statistieke ingesluit nie.

Dit is eerstens belangrik om te onthou dat die polisie slegs oor die misdade rapporteer wat aan hulle gerapporteer word en wat na alle waarskynlikheid noemenswaardig verskil van die aantal misdade wat wel plaasvind. Sommige studies in Suid-Afrika het byvoorbeeld uitgewys dat ‘n groot aantal misdade en in sommige gevalle selfs die meerderheid van die misdade wat wel plaasvind, nie by die polisie aangemeld word nie. Daar is heelwat redes hiervoor waarvan een van die belangsrikstes moontlik is dat die slagoffer nie ‘n redelike verwagting het dat die polisie in elk geval die oortreder sal opspoor nie. Daar is ook ‘n tendens waarneembaar dat ‘n groot aantal slagoffers van mening is dat die hele proses van die aanmelding van die saak en indien die polisie die verdagte wel opspoor, die bywoning van ‘n uitkenningsparade, bywoning van die hofsaak wat gewoonlik gepaard gaan met verskeie uitstelle van die saak, net nie die moeite werd is nie.

Die vraag is natuurlik ook dikwels hoe betroubaar die misdaadstatistieke is wat die polisie vrystel. Die waarheid is dat niemand behalwe die individuele polisiebeamptes op stasievlak die antwoord op hierdie vraag ken nie. Die misdaadstatistieke word direk rekenaarmatig saamgestel uit die sake wat die individuele polisiebeamptes op stasievlak op die polisie se rekenaarstelsel registreer, wat die moontlikheid daarstel dat die polisiebeamptes die inligting kan manipuleer. Hulle kan die misdaadinsident as ‘n minder ernstige misdaad registreer, byvoorbeeld ‘n roof as ‘n diefstalklagte, en sou die verdagte dalk later gearresteer word kan hulle slegs die klagte op die saakdossier terug verander ‘of reg maak’ deur die klagte te wysig na roof. Sodoende kan ‘n polisiestasie ‘baie suksesvol lyk’ in hulle vermoë om veral ernstige misdade te verminder in hulle stasiegebied. Dit is immers een van die kriteria wat in ag geneem word by die moontlike bevordering van die stasiebevelvoerder. Die polisie se misdaadintelligensie afdeling doen wel van tyd tot tyd inspeksies by geselekteerde (steekproef) polisiestasies om die akkuraatheid van die gerapporteerde misdaadtendense te probeer verifieer maar dit is moeilik om dit werklik akkuraat te doen.

Wat meer aanduidend is van die akkuraatheid van polisiestatistieke, is die gebruik van ander onafhanklike misdaadinligtingsbronne om ‘n korrelasie al dan nie te probeer vind tussen die tendense wat die polisiestatistieke aandui en die inligting in die onafhanklike bronne. Só is daar hierdie jaar ‘n duidelike korrelasie tussen die statistieke van die polisie en die misdaadinligtingsbronne van die South African Banking Risk Information Centre (SABRIC), misdaadinligting wat deur die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) bygehou of versamel word, en inligting wat deur onderskeie departemente by Unisa bygehou word, wat insluit die voorkoms van moordsake. Hierdie korrelasie bevestig die afname in misdaad wat deur die polisie se statistieke aangetoon word.

Dit word algemeen internasionaal aanvaar dat moordstatistieke in ‘n betrokke land baie akkuraat is omrede dit ‘n verpligde aanmeldbare misdaad is en verskeie instansies hieroor statistieke byhou. ‘n Voorbeeld hiervan is dat medici rekord moet hou van die aantal nadoodse-ondersoeke (post mortems). Die moordsyfer in Suid-Afrika het die afgelope boekjaar met ‘n verdere 5,3% afgeneem en is nou 40,7% laer as wat dit in ndie jaargang 1995/1996 was. Hierdie korrelasie van verskillende moordstatistieke toon ten minste aan dat die polisie se statistieke hieroor die regte tendens weerspieël.

Daar is ook verskeie van die ander ernstige misdaadtipes, byvoorbeeld huisrowe, motorvoertuigkapings, diefstal van motorvoertuie en huisbrake wat volgens alle aanduidings, insluitende die polisiestatistieke, afgeneem het. Veertien van die twintig misdaadtipes waaroor die polisie jaarliks rapporteer toon inteendeel in hierdie afgelope finansiële boekjaar se polisiestatistieke ‘n afname. Dit sluit ook misdade in wat ‘hoofsaaklik aangewese is op opsporing deur die polisie self’, byvoorbeeld dwelmverwante misdade, besit van ongelisensieërde vuurwapens en die bestuur van ‘n voertuig onder die invloed. Hierdie tipe misdade is gewoonlik ‘n maatstaf om te sien of die polisie effektief polisieer om byvoorbeeld deur middel van padblokkades hierdie tipe misdadigers op te spoor.

Daar is dus rede tot optimisme oor werklike misdaadafname asook om te glo dat die polisie se statistieke ten minste die korrekte tendense aandui vir die 2010/2011 finansiële boekjaar. Dit is egter nodig om perspektief te behou oor die suksesse wat die polisie en politici tans aan die groot klok hang. Ondervinding het geleer dat die polisie en politici in hul openbare kommentaar hoofsaaklik fokus op die spesifieke misdade of misdaadkategorieë wat in ‘n betrokke jaar afgeneem het. Dit is tans byvoorbeeld die geval met roof met verswarende omstandighede, wat uit verskeie vorme van roof bestaan, wat in die afgelope finansiële boekjaar afgeneem het. Alhoewel sommige van die misdaadtipes ‘n daadwerklike en noemenswaardige afname toon (die hoogste afname is sowat 12%), het die totale aantal misdade wat by die polisie in die 2010/2011 finansiële boekjaar aangemeld is, slegs met 2,4% afgeneem. Dit is wel ‘n belangrike stap in die regte rigting, maar dit sal teen hierdie tempo nog jare duur voordat Suid-Afrika se misdaad tot ‘n ‘aanvaarbare vlak’ sal daal wat vergelykbaar is met ontwikkelde lande in die wêreld. Verder is dit ook onseker of die huidige afname wel as tendens sal voortduur in die volgende (huidige) finansiële boekjaar. Hierdie onsekerheid is onder andere gekoppel aan die sterk vermoede dat die verskerpte polisiëring in 2010 tydens die sokker wêreldbeker, gepaardgaande met ‘n verbeterde gesindheid van beide die polisiebeamptes en die publiek, ‘n beduidende impak gehad het op misdaad gedurende dieselfde tydperk. Die swak motivering, moraal en gesindheid van polisiebeamptes was al in verskeie studies uitgelig en dra by tot oneffektiewe polisiëring. Dieselfde tipe van gesindheid by die deursnee lid van die publiek het na alle waarskynlik ook ‘n bydraende effek tot die skep van ‘n kultuur en omgewing waar misdaad kan plaasvind en misdadigers ongestoord hul misdaadaktiwiteite kan voortsit sonder dat die gemeenskap hulle aktiwiteite aan die polisie rapporteer. Hierdie tendens is omskryf in studies oor huisrowe en motorvoertuigkapings in Suid-Afrika. Tydens die wêreldbeker sokker-reeks in Suid-Afrika was polisiebeampte en lid van die publiek eweneens gemotiveerd om van die toernooi ‘n sukses te maak deur misdaad te bekamp. Dit het aanleiding gegee tot ‘n atmosfeer van nasionalisme waar baie saamgestaan het teen misdaad (meer as gewoonlik) en die geleentheid tot misdaad daardeur grootendeels aan bande gelê is. Verder het die polisie uitgebreide misdaadvoorkomingsinisiatiewe van stapel gestuur wat ‘n impak op misdaad gehad het. Die vraag is of hierdie veranderde gesindhede en insiatiewe mee volhard gaan word.

Baie besliste erkenning moet ook aan gemeenskapsveiligheidnetwerke gegee word vir hulle bydrae in die effektiewe bekamping van misdaad en die gevolglike afname in gerapporteerde gevalle. ‘n Onlangse studie deur Unisa en AfriForum het byvoorbeeld uitgewys dat die aksies van gemeenskapsveiligheidnetwerke uiters geslaagd is in misdaadbekamping en dat hierdie aksies, indien dit volgehou word, gemeenskappe wat voorheen deur misdaad geteister is amper weer misdaadvry kan maak. Net soos dit in die afgelope jare herhaaldelik uitgewys is dat die stygende misdaadtendens nie alleenlik voor die deur van die polisie gelê kan word nie, maar eerder te wyte is aan ‘n verskeidenheid van oorsaaklike faktore, só moet daar nou ook erkenning gegee word aan die feit dat die misdaadafname ook nie alleenlik deur die polisie te weë gebring kon word nie. Net soos die oorskakeling van die polisie na ‘n meer effektiewe polisiëringstyl, naamlik intelligensiegedrewe polisiëring, ‘n besliste bydrae gemaak het om misdaad te bekamp, het die insiatiewe van gemeenskapsveiligheidsnetwerke waarskynlik in gelyke mate bygedra tot die bekamping van misdade, en veral dan misdade soos huisrowe. Die bedreiging vir die voortgesette aksies van gemeenskapsveiligheidnetwerke is egter nou dat die belangstelling en deelname deur inwoners tot hierdie netwerke kan taan omdat ‘misdaad afgeneem het’. Indien dít gebeur is die risiko ‘n werklikheid dat misdaad net weer sal terugkeer tot die hoër vlakke van voorheen of eenvoudiglik net weer sal begin toeneem.

Sekere tipes misdade blyk uit die polisiestatistieke om in verhouding met die steeds algemene hoë vlakke van misdaad egter nog steeds ‘n groot probleem te wees. Dit is uiters kommerwekend dat die getal gerapporteerde verkragtings (in reële terme al het die definisie van die misdaad onlangs verander), roof by besigheidspersele en moorde op vroue spesifiek, toegeneem het. Verder bly die aantal seksuele misdade teen kinders, insluitende seksuele misdade teen kinders onder 10 jaar oud, uiters hoog. Ander misdade wat aan die toeneem is, is ‘kommersiële’ misdade, diefstal uit motorvoertuie en diefstal in die algemene sin.

Hierdie aangekondigde misdaadstatistiek is miskien aanduidend van ‘one small step for South Africans’ teen misdaad, maar beslis nog nie ‘one giant leap’ nie. Dit mag dalk wel met voortgesette ywer, toewyding en vasberandenheid deur al die rolspelers, hopenlik die draaipunt wees in die stryd teen misdaad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae