Kommer oor Dettol en Domestos

Die Nasionale Reguleerder van Verpligte Standaarde (NRCS) het Maandag aan Maroela Media gesê hy is bekommerd oor sekere ingevoerde Dettol en Domestos-produkte en hulle oorweeg om die produkte landwyd te herroep.

Maroela Media het van ʼn woordvoerder by die NRCS verneem dat die ingevoerde weergawes van beide produkte, nie aan die verpligte spesifikasie vir ontsmettingsmiddels, wat deur die NRCS geadministreer word, voldoen nie.

Dit is die NRCS se doel om die gesondheid van alle Suid-Afrikaanse verbruikers te beskerm en dit is waarom die twee produkte, naamlik Domestos Extended Germ Kill en Dettol Disinfectant Liquid, moontlik herroep gaan word. Die NRCS gaan die produkte vir omvattende toetse stuur om te bepaal of die inhoud van die produkte gevaar vir die verbruikers kan wees.

Die woordvoerder het egter beklemtoon dat die produkte wat in Suid-Afrika vervaardig word, aan al die vereistes van die reguleerder voldoen en veilig vir gebruik is. “Ons wil glad nie die publiek paniekerig maak nie, en sal die uitslae van die toetse bekendmaak so gou as wat dit afgehandel is. Ons regspan vergader ook met die verskaffer om seker te maak hulle voldoen aan die vereistes. Sou daar ʼn probleem opduik, sal die produkte landwyd herroep word.”

Die volgende nommer is aan die onderkant van die goedgekeurde Domestos-produk gedruk: (Act5GNR529/211025/072/0092). Die woorde “Extended Germ Kill” moet nie op die houer verskyn nie. Die verbruiker moet ook seker maak dat die vervaardigers se fisiese adres en kontakbesonderhede Suid-Afrikaans is.

Die volgende nommer is aan die onderkant van die goedgekeurde Dettol-produk gedruk: (ActGNR529/204408/040/0030). Die woorde “Disinfectant Liquid” moet nie op die houer verskyn nie. Die verbruiker moet ook seker maak dat die vervaardigers se fisiese adres en kontakbesonderhede Suid-Afrikaans is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.