Kommer oor sintetiese diamante

Die Belgiese departement van Justisie probeer agter die kap van die byl kom van die vervaardiging en verspreiding van sintetiese diamante.

‘n Gespesialiseerde laboratorium in die wêreld se diamanthoofstad, Antwerpen, het bevestig dat 600 diamante wat as egte, natuurlike diamante verhandel is, in werklikheid sintetiese, laboratoriumvervaardigde diamante is. De Tijd berig dat die sintetiese diamante so perfek vervaardig is dat diamantkenners met jare ondervinding selfs onder mikroskope, nie sal kan agterkom dis nie die ware Jakob nie.

Die oorspronklike bedrogspul is reeds in Mei in die VSA ontdek, en De Beers het destyds wêreldwye waarskuwings uitgestuur. Sedertdien het die verkope van driedimensionele skandeerders, wat handelaars beter in staat stel om die sintetiese diamante uit te ken, baie toegeneem. ‘n Sintetiese diamant is op e-Bay sowat 50% minder werd as ‘n egte diamant.

Nederlandstalige koerante wat die berig oorgeneem het, gebruik opskrifte soos: ‘”Perfecte” nepdiamant bedreigt wereldwijde handel.’ Die meeste het De Tijd se berig as die oopvlek van ‘n nuwe bedrogspul vertolk en op hol gegaan, terwyl die berig self bloot die polisie-ondersoek in Antwerpen as nuwe nuus aangebied het – ‘n klassieke slaggat van roofjoernalistiek.

Na die Gemmologisch Instituut die sintetiese diamante in sy laboratorium ontdek het, is ‘n kennisgewing wêreldwyd aan laboratoriums gestuur om instansies te waarsku om op die uitkyk te wees. “Hierdie praktyk kan die integriteit van die hele bedryf ondermyn, tot nadeel van die diamanthandelaars en die verbruikers.”

Dit blyk dat niemand nog weet wie die perfekte sintetiese diamante vervaardig nie.

Die bedrogspul is per toeval ontdek, en dit is dus onbekend hoeveel sintetiese diamante reeds in omloop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul Joubert ·

“Remarkable. Diamonds, crystallized carbon. Every day, people go to the grocery store and come home with sacks full of carbon in the form of charcoal briquettes that they toss in their barbeques and set on fire. But just because you’ve got some carbon with the atoms stacked neatly, you expect me to plunk down thousands of dollars.”

Sheldon Cooper – The Big Bang Theory

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.