Kommer oor tekort aan tandheelkundige verdowingsmiddel

Argieffoto.

Tandartse is bekommerd oor ʼn tekort aan ʼn lokale tandheelkundige verdowingsmiddel wat al vir dekades lank gebruik word en veilig is vir alle pasiënte, het Beeld Donderdag berig.

Dr. Koos Marais het gesê hy sukkel al ʼn geruime tyd om die produk, Scandonest 3%, te bekom. Dit is ʼn lokale verdowingsmiddel sonder vasokonstriktors (‘n middel wat veroorsaak dat ʼn bloedvat vernou).

“Ek het nog net twee weke se voorraad oor en verskaffers sê hulle kan dit nie in die hande kry nie,” het hy aan die koerant gesê. Hy sê die tekort kan daartoe lei dat tandartse ander verdowingsmiddels moet gebruik wat vasokonstriktors bevat en wat ʼn gevaar vir swak of ouer pasiënte kan inhou.

“Pasiënte kan hartkloppings of angs kry of selfs flou word daarvan. In sommige gevalle kan dit tot ernstige gevalle soos hartaanvalle en hartstilstande lei,” het hy gesê.

Marais het gesê daar is geen goeie alternatiewe middels in die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar nie. “Verskeie tandartse sal bang wees om hieroor te praat uit vrees dat hulle hul pasiënte gaan bang maak, maar mense se lewens is in gevaar, ons kan nie nou kompromieë aangaan nie.”

ʼn Woordvoerder van Dental Warehouse, wat die produk invoer en versprei, het gesê die huidige voorraad is in hul stoorkamer onder kwarantyn geplaas sodat dit getoets kan word.

Die vervaardiger het onlangs die bron, van waar die aktiewe bestanddeel bekom is, verander. Toetse moet nou gedoen word om te bepaal op die produk nog steeds dieselfde gehalte as die vorige middel is.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Seg Net ·

So verval alles in die land. Kan julle n brief gee, dit is as gevolg van regstellende aksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.