Kommissie vir Billike Indiensneming interpreteer eie verslag verkeerd – Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het Donderdag sy misnoeë daaroor uitgespreek dat die departement van arbeid se Kommissie vir Billike Indiensneming in sy jongste verslag foute herhaal wat die vakbond al voorheen uitgewys het. Die kommissie interpreteer sy eie syfers verkeerd deur die rassesamestelling van die ekonomies aktiewe bevolking as die enigste maatstaf vir rassetransformasie te gebruik.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die manier hoe die kommissie syfers oor aanstellings en bevorderings vertolk, is verkeerd. “Die kommissie verwys byvoorbeeld daarna dat 43,9% van werknemers op senior bestuursvlak wit mans is en dat 39,5% van die aanstellings en 30,1% van die bevorderings op dieselfde vlak ook wit mans is. Die kommissie sê dan dat hierdie syfers beteken dat wit mans sal voortgaan om op dié vlak te oorheers. In werklikheid dui die syfers juis daarop dat wit mans se posisie op senior bestuursvlak stelselmatig afneem. Hierdie afname kan ook gesien word wanneer die huidige syfers met die vorige verslae se syfers vergelyk word.”

Ten spyte daarvan dat die verteenwoordiging van wit mans in die afgelope agt jaar met byna 9 persentasiepunte op topbestuursvlak en met byna 14 persentasiepunte op seniorbestuursvlak gedaal het, voer die Kommissie vir Billike Indiensneming aan dat wittes en mans vir die volgende 127 jaar van middel- tot topvlak sal oorheers. Die kommissie het hierdie syfer ook verlede jaar slegs ten opsigte van die topbestuursvlak gebruik, waarna Solidariteit uitgewys het dat die syfer foutief is. Soos telkens in vorige verslae, is die ‘oorverteenwoordiging’ van veral wit werknemers op die boonste posvlakke weer in die jongste verslag skerp veroordeel. “Dít terwyl top- en senior bestuur gesamentlik slegs 1,75% van die werknemers wat deur die verslag gedek is, uitmaak. Die uitsprake word ook gemaak ten spyte daarvan dat wit mans se verteenwoordiging op topbestuursvlakke luidens die kommissie se eie verslae van 67,5% in 2003 tot 55,2% in 2011 afgeneem het. Op senior bestuursvlakke het wit mans se verteenwoordiging van 57,8% in 2003 tot 43,9% in 2011 gedaal. Op die professioneel gekwalifiseerde vlak het die verteenwoordiging van wit mans van 34,3% in 2003 tot 26,3% in 2011 gedaal.”

Solidariteit is teleurgesteld dat die kommissie glad nie na die belangrikste rede, naamlik geskikte kwalifikasies, vir die sogenaamde ‘wit oorheersing’ op hoër vlakke in die arbeidsmark verwys nie. Dit terwyl artikel 42 van die Wet op Gelyke Indiensneming stipuleer dat die poel van beskikbare mense met geskikte kwalifikasies ’n belangrike oorweging is wanneer voldoening aan die wet geëvalueer word. Luidens Statistieke Suid-Afrika se gemeenskapsopname van 2007 was byna 50% van alle mense ouer as 20 met ’n graad as hoogste kwalifikasie, wit mense. Op honneursvlak of hoër was dit byna 60%. Dit is dus nie verbasend dat wit mense ‘oorverteenwoordig’ is op hoër posvlakke nie, omdat dit op dié vlakke is waar hoër kwalifikasies in aanvraag is.

Lees die SNI se kritiese ontleding van die 12de jaarverslag van die Kommissie vir Billike Indiensneming hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.