Koning Charles III lewer eerste toespraak as monarg

Koning Charles III lewer sy eerste toespraak as monarg. (Foto: Yui Mok/Pool/AFP)

Alhoewel koning Charles III se nuwe titel steeds vreemd op sommige mense se tonge voel, het die wêreld vanaand ’n voorsmakie van Engeland se koninklike toekoms gekry.

Koningin Elizabeth II het Donderdagaand in die ouderdom van 96 by haar woning in Skotland, Balmoral, gesterf. Haar seun, wat nou as koning Charles III bekend staan, het onmiddellik na haar afsterwe die troon bestyg.

Hy het die wêreld vir die eerste keer onder dié titel toegespreek.

In die toespraak het hy met liefdevolle herinnering oor sy ma gepraat, met ’n dankbetuiging vir jare se onbaatsugtige toewyding teenoor haar land en mense. Iets waaruit hy graag inspirasie wil put in sy tyd as koning.

Koning Charles III beloof om deurlopend “grondwetlike beginsels” toe te pas.

Met dié het hy ook die belofte wat koningin Elizabeth II op haar 21ste verjaarsdag uit Kaapstad gemaak het om haar lewe aan haar mense te wy, hernu as sy eie.

Met sy nuwe titel kom ’n vragvol nuwe verantwoordelikhede en dit waaraan hy sy lewe die afgelope 50 jaar as hertog van Cornwall en prins van Wallis gewy het, is nou in die hande van ander.

Dié twee titels sal deur sy seun, prins William, oorgeneem word. Uiteraard beteken dit dat Kate Middleton, hertogin van Cambridge en Cornwall, nou die titel van prinses van Wallis gaan hê, die titel wat eens aan prinses Diana behoort het.

Hy het in die toespraak ook sy liefde vir prins Harry en sy vrou, Meghan, uitgespreek.

Hy het die toespraak afgesluit met dankbaarheid vir sy “liewe Mamma”. Hy het haar sterkte toegewens met haar “laaste reis,” waar sy weer saam met sy “liewe pappa” gaan wees.

’n Reuseskare het Vrydag 9 September voor die hekke van Buckingham paleis begin saamdrom.

Met sy aankoms in Londen, het koning Charles uit sy motor geklim en die skare met ’n breë glimlag gegroet. Hy het met mense hand geskud, blomme ontvang en selfs ’n soen gekry van iemand wat hom voorspoed toegewens het.

Sy vrou Camilla, die koningin‑gemalin, het by hom aangesluit voordat hulle in die paleis ingegaan het waar hy die toespraak wat later uitgesaai is, sou opneem.

Hy het ook vanaand vir die eerste keer as koning ’n vergadering met Engeland se nuwe premier, Liz Truss, by Buckingham‑paleis gehad.

Wat die kenners voorspel

Alhoewel die nuwe koning van kindsbeen af voorberei is vir die kroon wat tans op sy kop rus, meen kenners dat ’n uitdagende tydperk vir hom voorlê.

Koningin Elizabeth II se kroning in 1953 was vir mense ’n simbool van vernuwing, hulle het verheug toegekyk hoe ’n nuwe monarg die kroon bestyg.

Robert Hazell, stigter van die Grondwet-eenheid by University College London, is egter van mening dat die nuwe koning dalk in die skadu van sy ma se sewe dekade lange tydperk op die troon gaan wegkwyn.

“Ek dink die monargie sal waarskynlik deur ’n paar toetstydperke gaan,” het hy aan AFP gesê.

Die 73-jarige Charles is geken aan sy kommentaar oor onderwerpe soos boerdery en moderne argitektuur. Dié kommentaar is nie altyd goed deur die betrokke partye of die publiek ontvang nie.

Hazell sê dat die nuwe koning sy sterk menings moet omskakel na ’n meer neutrale aanslag, een wat dalk dié van sy ma weerspieël.

Hy erken egter dat Charles se sterk aanvoeling vir staatsdiens en nasionale plig hom deur sy jare as koning gaan dra.

Volgens ’n meningspeiling wat deur YouGov uitgevoer is, is die openbare mening amper gelykop verdeel oor die vooruitsig van Charles as monarg.

In 2022 het net minder as ’n derde van diegene wat aan die peiling deelgeneem het, gesê hy sal nie ’n goeie koning maak nie, terwyl byna presies dieselfde aantal mense gesê het hy sal.

Daarenteen sê meer as 80% dat koningin Elizabeth redelik goeie of baie goeie werk gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.